OUDTSHOORN NUUS - 'n Nissan-bakkie met ses insittendes het Maandagaand omstreeks 19:30 die pad naby Schoemanspoort byster geraak en in 'n kanaal beland.
Die bestuurder en een passasier wat in die kajuit was, is nie beseer nie. Twee van die mans wat agter op die bakkie gesit het, is beseer. Een het rug- en nekbeserings opgedoen en die ander een het 'n kopwond opgedoen.
Sover vasgestel kon word is al ses die mans in die omgewing van die Kango-bergoord woonagtig en van hulle is werknemers by die oord.
Die bakkie was in die rigting van die oord vanaf Oudtshoorn onderweg toe die bestuurder beheer verloor het. Die bakkie het oor die pad gery en 'n verkeersteken langs die pad getref waarna dit gedeeltelik in 'n semetkanaal met water beland het.
Die kappie van die bakkie is met die ongeluk afgeruk. Die twee beseerdes is per ambulans hospitaal toe geneem en een van die passasiers wat later oor borspyn gekla het, is ook met die ambulans hospitaal toe geneem vir waarneming.
Die Nissan-bakkie nadat dit in 'n kanaal beland het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'