DYSSELSDORP NUUS - 'n Jong vrou en 15-jarige seun is Dinsdag in die Oudtshoorn-hospitaal opgeneem nadat hulle in Adonisstraat, Dysselsdorp, deur 'n bakkie getref is.
Volgens Chaverno September, die seun, is hy Dinsdagoggend deur 'n onderwyser huis toe gestuur omdat sy hare nie geknip was nie.
"Ek het op die sypaadjie geloop en 'n vrou het voor my geloop. Die vrou wat die bakkie bestuur het, het vir die padwerke in die pad uitgeswaai en my bo van die sypaadjie af gery. Ek het aan die anderkant van die pad geval."
Dit blyk dat die vrou nie vinnig genoeg kon stop nie, en het toe vir Teresa Lingerveld, wat ook op die sypaadjie geloop het, getref.
September se arm en skouer is beseer en sy rug is nerfaf. Lingeveld se laerug, skouer en been is in die ongeluk beseer. Albei is dieselfde dag ontslaan, maar hulle het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle baie pyn het.
Sophie Willeman, September se voog, sê sy is baie bekommerd oor die seun.
"Die dokter het vir hom medikasie gegee, maar hy kla die heeltyd van die pyn. Sy skoolklere het ook in die ongeluk geskeur."
Kaptein Joey Strydom, stasiebevelvoerder van Dysselsdorp-polisiestasie sê 'n klag van roekelose en/of nalatige bestuur word ondersoek. Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwys departement (WKOD) sê hulle is bewus van die voorval en die WKOD is tans besig met 'n ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'