Update
OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat daar nie 'n week verbygaan sonder 'n ernstige botsing in die dorp nie en hierdie week was dit weer so.
Twee ernstige botsings waarin ses voertuie betrokke was en ten minste vier mense beseer is, het Dinsdagaand en Woensdagoggend plaasgevind.
In die eerste botsing Dinsdagaand is 'n Toyota-bakkie by die verkeersbeheerpunt by die gholfbaan deur 'n aankomende polisievoertuig getref toe die bakkie glo regs by Springbokweg ingedraai het.
Na die botsing het die polisievoertuig 'n motor getref wat by die stopstraat gestaan en wag het. Die slag het die motor na agter gestamp waar dit 'n munisipale voertuig getref het.
Twee polisielede is per ambulans hospitaal toe geneem. Drie insittendes van die motor is op die toneel behandel.
Die polisie kon nie op die toneel bevestig wie die bestuurder van die Toyota-bakkie was nie aangesien die passasier glo nie geweet het saam met wie hy gery het nie. Dit blyk egter dat die bestuurder kort na die botsing met nooddienspersoneel gepraat het en aangedui het dat hy die bestuurder was.
Hy was egter nie in die omgewing toe die polisie wou bevestig wie die bestuurder was nie.
Volgens die bestuurders van die motor en die munisipale voertuig het hulle gesien dat die bakkie voor die aankomende polisievoertuig ingedraai het.
Nadat die polisievoertuig 'n bakkie getref het, het dit teen 'n stilstaande motor gebots. Foto: Hannes Visser
In die tweede ongeluk het 'n Nissan X-Trail omgeslaan nadat dit 'n VW Polo in Parkweg getref het.
Die Nissan het op sy sykant te lande gekom en volgens mense wat die botsing sien gebeur het, het die Nissan op 'n vrou gelê wat halflyf uit die voertuig was.
"'n Klomp van ons het die kar opgelig en 'n spaarwiel onder die bak gesit sodat dit nie op die vrou se nek lê nie," het 'n man gesê wat die botsing sien gebeur het. Die vrou is op die toneel gestabiliseer en hospitaal toe geneem.
Haar man, wat ook in die Nissan was, is op die toneel behandel. Sover vasgestel kon word was die vrou teen gister in 'n stabiele toestand in die hospitaal.
Die bestuurder van die VW Polo was alleen in die voertuig en sy is ook hospitaal toe geneem.
Volgens 'n ooggetuie was die Nissan en die Polo in teenoorgestelde rigtings in Parkweg onderweg. Die Polo het glo regs in Kerkstraat ingedraai en is deur die aankomende Nissan getref.
'Ons bring jou di enuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'