Update
DYSSELSDORP NUUS - 'n Man van Dysselsdorp wat van moord op sy 14 maande oue stiefdogter skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof 16 jaar gevangenisstraf opgelê.
Die 31-jarige Calvin Adams is daarvan aangekla dat hy die kind op 12 of 13 Februarie 2018 met 'n stomp voorwerp gekap of geslaan het. Sy het die volgende dag in die George-hospitaal aan haar beserings beswyk.
Die kind het volgens die patoloog, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, dr. Christa Hattingh, veelvuldige inwendige beserings opgedoen wat met erge geweld toegedien is.
Volgens haar kon die kind nie die beserings opgedoen het deur uit haar babawaentjie te val, soos deur die pa beweer word nie. Dit het gelyk soos iemand wat in 'n motorongeluk was, of geskop en gestamp en op die grond neergegooi is.
Adams het onskuldig gepleit en aangevoer dat die kind uit haar babawaentjie geval het. Hy het ontken dat hy die kind enigsins aangerand het.
Die kind se ma het getuig dat sy niks makeer het toe sy haar in die sorg van Adams gelaat het nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Adams se getuienis as vals en onwaarskynlik verwerp. Volgens haar is die enigste afleiding wat die hof uit getuienis kon maak dat dit hy was wat die beserings aan die kind toegedien het. Hy was veronderstel om die kind te beskerm.
Moni het haar kommer uitgespreek oor die statistiek ten opsigte van kinders wat jaarliks in Suid-Afrika vermoor word.
Volgens haar is die Wes-Kaapse statistiek skrikwekkend.Adams toon ook geen berou nie en korrektiewe toesig sal nie 'n gepaste vonnis wees nie.
Hoewel hy 'n eerste oortreder is, is hy nie geregtig op buitestraf nie. Hy is ook nie die primêre versorger van sy eie kind nie.
Die landdros het bevind dat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van 16 jaar nie.
Read previous articles:
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'