Update
DYSSELSDORP NUUS - 'n Man van Dysselsdorp wat van moord op sy 14 maande oue stiefdogter aangekla is, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind. Die saak is vir vonnisoplegging uitgestel.
Calvin Adams is daarvan aangekla dat hy die kind op 12 of 13 Februarie 2018 met 'n stomp voorwerp gekap of geslaan het. Sy het die volgende dag in die George-hospitaal gesterf. Adams het onskuldig gepleit en aangevoer dat die kind uit haar babawaentjie geval het.
Die kind het, volgens die patoloog wat die nadoodse ondersoek gedoen het, dr. Christa Hattingh, inwendige beserings opgedoen wat met erge geweld toegedien is.
"Die kind kon nie so seergekry het net van uit 'n babawaentjie val nie," het sy getuig.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Adams se getuienis as vals en onwaarskynlik verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Adams was die vorige aand alleen saam met die kind en kon nie verduidelik hoe sy aan haar beserings gekom het nie.
Hy het met die ma van die kind saamgestem dat die kind niks makeer het toe sy by die huis weg is nie. Adams is aan moord skuldig bevind en vonnisverrigtinge is uitgestel tot 8 November.
Die hof het gelas dat Adams, wat op borgtog was, tot dan aangehou word.
Lees 'n vorige artikel: Baba met stomp voorwerp doodgeslaan
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'