Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtog het op 25 November begin. Famsa-Karoo het Vrydag dié veldtog by die Unieplein met 'n gedramatiseerde verhaal van sr. Maria Abrahams en 'n gesprek van Wilmack Kammies begin. Later is 'n vriendelike optog deur vroue, kinders en 'n transgender-vrou deur die strate van Oudtshoorn gehou.
Abrahams, vermom met sonbrille, 'n pruik en hoed het in 'n gedramatiseerde uitbeelding vertel hoe haar karakter as jong belowende student die verkeerde pad kies.
Drank, partytjies en verkeerde vriende het gelei tot talle swangerskappe, verkragtings en verslawing. Sy het in die uitbeelding vertel dat haar karakter God as redder aanneem - versoen raak met haar ouers - uiteindelik trou en 'n baba kry. Vele van die toeskouers op die plein was geraak deur hierdie gedramatiseerde verhaal.
Waaroor gaan 16 dae
Dit is 'n internasionale veldtog wat jaarliks op 25 November begin. Dit fokus op die vernietiging en uitskakeling van geweld teen vroue en kinders. Hierdie internasionale veldtog eindig op
10 Desember, Menseregtedag.
Franzu Badenhorst, uitvoerende hoof van Famsa-Karoo vertel dat die fokus vanjaar ook op die transgender-gemeenskap sal val. Volgens Badenhorst is Oudtshoorn 'n brandpunt wat gesinsgeweld in die Wes-Kaap betref.
"Tussen April en Oktober vanjaar is daar 734 aansoeke om beskermingsbevele by die Oudtshoorn-landdroskantoor afgeneem, die meeste hiervan is aan fisiese mishandeling en gesinsgeweld gekoppel," vertel hy.
Badenhorst voel dat om 'n verskil te maak, oortreders 'n beskermingshouding moet aanneem, verantwoordelikheid vir hul dade moet neem, hulle swakhede erken, nie ander die skuld gee nie, en ook nie magsbehep wees nie.
Wat is geslagsgebaseerde geweld?
Geslagsgebaseerde geweld word beskou as 'n menseregteskending. Dit word as 'n struikelblok van geslagsgelykheid vir ontwikkeling gesien. Badenhorst vertel dat dit enige skadelike daad wat tot fisiese, seksuele of sielkundige skade aan of lyding van 'n vrou, man, dogter of seun - op grond van hulle geslag - kan lei. "Geslag verwys na die sosiale verskille tussen mans en vroue," sê Badenhorst.
Vorme van geslagsgebaseerde geweld
- Gesinsgeweld - enige vorm van geweld wat binne die gesin plaasvind
- Dwang - dit kan fisiese geweld, sielkundige intimidasie, afpersing of dreigemente insluit
- Fisiese geweld - enige daad wat bedoel is om fisiese pyn, besering, lyding of liggaamlike leed van 'n ander persoon te veroorsaak
- Emosionele geweld - enige daad of dreigement tot 'n daad wat emosionele pyn veroorsaak en inbreuk op 'n persoon se privaatheid, vryheid, integriteit of sekuriteit maak
- Ekonomiese geweld - die doelbewuste afneem of ontneming van finansiële hulpbronne om 'n persoon se huishoudelike behoeftes en ander verpligtinge te betaal
- Seksuele geweld - enige seksuele daad of poging daartoe - gerig teen iemand se seksualiteit, deur die gebruik van geweld
- Seksuele mishandeling - enige handeling waar onsedelike aanranding, molestering of seksuele teistering plaasvind wat die slagoffer mishandel, verneder of aftakel
- Vrouemoord - moord op vroue deur intieme maats of deur vreemdelinge op grond van geslag.
Famsa-program
- 5 Desember - 09:00 - Vrou van krag (in samewerking met ACVV Oudtshoorn en kinderwelsyn) - High Gate-volstruisplaas - Volmoed
- 6 Desember - 09:00 - Vier jou innerlike self (in samewerking met die departement van maatskaplike ontwikkeling) - High Gate-volstruisplaas - Volmoed
- 8 Desember - 09:00 - Viering van transgender - Buffelsdrift Lodge
VIDEO - 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtog (Video: Sonia Wahl).
Sr. Maria Abrahams het 'n gedramatiseerde verhaal vertel van 'n meisie wat 'n belowende jong student was en die verkeerde pad as gevolg van alkohol geneem het.
Toeskouers tydens die opening van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog op die Unieplein.
Wilmack Kammies besig om 'n toespraak te lewer.Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'