OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Dysselsdorp, wat van die moord op haar buurvrou skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Leah Freeks (49) het op 22 Mei 2021 die 62-jarige Hester Sampson een keer met 'n mes in die nek gesteek nadat Sampson haar glo eerste gesteek het.
Volgens Freeks is sy na Sampson se huis om te vra waarom sy haar dogter slegsê.
'n Woordewisseling het tussen die twee ontstaan waarna Freeks vir Sampson tot in haar kombuis agtervolg het en die stryery voortgegaan het.
Volgens Freeks het Sampson haar geklap, 'n mes gegryp en haar skrams onder haar oog gesteek.
Sy het kwaad geword en die mes by Sampson afgevat. Volgens haar verduideliking het sy die oorledene toe een keer gesteek, maar weet nie waar nie. Sy het ook na Sampson se seun gesteek en weet glo ook nie waar nie.
"Sy het baie groot geskrik toe sy later hoor Sampson is dood," lui haar pleit-verduideliking.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Freeks se weergawe van die dag se gebeure verwerp en haar ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'