OUDTSHOORN NUUS - Kansa het die afgelope naweek hul jaarlikse Cansa Shavathon by Smitswinkel gehou.
Volgens Adri Odendaal, volhoubaarheids- en dienstekoördineerder, het hulle Saterdag eers voor Spar in Voortrekkerweg gestaan waar hulle ondersteuners se hare geskeer en met helder haarverf gespuit het.
"Die doel van die Cansa Shavathon is om geld vir Kansa in te samel om kankerlyers tydens hul siekbed te help."
Die jaar was iets besonders, omdat die vrouepersoneel van Kango-dierekliniek hulle hare afgesny of afgeskeer het en aan Kansa geskenk het.
"Hulle het dit in 'n wonderlike gees gedoen. Hulle het selfs T-hemde vir die geleentheid laat maak. Dorothea Louw het 60 cm van haar hare geskenk. El-Mari het 25 cm afgesny. Altesaam 12 boksterte is in Oudtshoorn geskenk en kon ons R14 000 insamel."
Mike en Adriana Robinson, Adriana is gekies as Cansa Global Hero of Hope Survivor en Mike as Cansa Global Hero of Hope Caregiver.
"Adriana is 25 jaar skoon van kanker, nadat sy drie keer kanker gehad het. Hulle het beide hulle hare vir Kansa geskeer. Nog 'n kankeroorwinnaar, Annline Botha, het kom help om almal te spuit en te skeer."
Odendaal het die Rotariër, Lions en ander klubs en vrywilligers bedank wat hul dag opgeoffer het om te gehelp.
Vir meer inligting oor Kansa skakel Odendaal by 072 133 0444.
Die span van Kango-dierekliniek wat hul hare gesny of geskeer het, is, agter van links: Dorothea Neethling, Trude Stander en El-Mari van der Merwe. Voor, van links is: Reinette du Plooy, Lee-Ann van Sittert en Juanita Jacobs.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'