Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die 2018-slaagsyfer van skole in die Eden- en Sentraal Karoo-distrik het gedaal vanaf 81,7% in 2017 na 81,1% in 2018.
Daar is ook slegs vier skole van die 46 skole in die distrik wat 100% slaagsyfer het en Oudtshoorn se Langenhoven Gimnasium is een van die vier.
Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat Gimmies met die uitmuntende prestasie kan spog.
Die ander drie skole wat 'n 100% slaagsyfer behaal het was Hoër Landbouskool Oakdale, Shalom Akademie en Hoërskool Wittedrift.
Die verslagspan van die Oudtshoorn Courant het die skole tydens die bekendmaking van die punte besoek.
Langenhoven Gimnasium het die beste presteer van al Oudtshoorn se skole. Hul 109 matrieks het almal geslaag.
Van die 109 matrieks het 77% universiteitstoelating verdien en die skool se gemiddeld is 62,2% met 9 A-kandidate. Die skool se top tien akademiese presteerders is almal meisies.
Die top drie is Anna-Mart Schutte, Helette du Plessis en Jané Venter.
Struisies het vanjaar tweede beste gevaar. Gerrit Rudolph, waarnemende skoolhoof van Hoërskool Oudtshoorn, het gesê Struisies het vanjaar 'n 96,8% slaagsyfer behaal. 125 leerders het die 2018-matriekeindeksamen geskryf en 121 leerders het dit gemaak. Rudolph is veral trots op die 14 A-gemiddeldes wat verlede jaar se matrieks opgelewer het, in vergelyking met 2017 se sewe A-gemiddeldes. Die skool spog ook vanjaar 98 BA-graad studente in vergelyking met verlede jaar se 67. Die skool het ook 135 vak A-simbole. Die top 3-kandidate is Carla Swart (90,43%), Kabelo Motubase (87%) en JG Marais (86,86%).
Die slaagsyfer van die ander skole in die Eden- en Sentraal Karoo-distrik is as volg:
- Aurial Kollege: 75%
- Bastiaanse Sekondêr: 73,9%
- Beaufort-Wes Sekondêr: 83,6%
- Bridgton Sekondêr: 83,9%
- Calitzdorp Hoërskool: 77,6%
- De Rust Sekondêr: 77,2%
- Dysselsdorp Sekondêr: 74,6%
- Fezekile Secondary: 72,7%
- Ladismith Hoërskool: 92,9%
- Ladismith Sekondêr: 86,3%
- Môrester Sekondêr: 70,1%
- Oakdale Landbouskool: 100%
- Sentraal Hoërskool: 94%
- Shalom Akademie: 100%
- Uniondale Hoërskool: 78,3%
- Zwartberg Hoërskool: 71,2%
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'