OUDTSHOORN NUUS - Daar sal drasties iets gedoen moet word om te verhoed dat vragmotorbetuurders wat toenemend op GPS-aanwysings vertrou, op die Swartbergpas beland.
Dit is die dringende boodskap van Kobus Lategan, wat reeds die afgelope 27 jaar die restaurant, Kobus se Gat net voor die Swartbergpas bedryf.
Lategan het met Oudtshoorn Courant gesels oor die jongste voorval waar ’n vragmotor met ’n lang sleepwa verlede Vrydag by die eerste skerp draai aan die voet van die pas van die pad af geloop het.
Veiligheid en toerisme
“Ek kan nie onthou hoeveel vragmotors al hier uitgesleep moes word nie, maar ek dink dit is al naby aan tien. Dit gaan nie net oor die gevaar dat die vragmotors kan omval en mense kan seerkry nie, dit gaan ook daaroor dat die pas elke keer vir ure gesluit moet word en dit het ’n geweldige invloed op ons toerisme,” sê Lategan.
Hy verduidelik dat hy verlede Vrydag ’n toergroep gehad het wat op die pas was en nie Oudtshoorn toe kon kom nie omdat die pad gesluit was. Hy sê hy het al vragmotors wat by sy plek verbyry, voorgekeer en hulle laat omdraai. “Ek het hierdie vragmotor sien verbygaan en hom probeer inhaal, maar ek was te laat,” sê hy.
Padtekens
Hy verduidelik dat die padtekens wat aangebring is, nie voldoende is nie en waarskynlik dikwels nie eens raakgesien word die.
“Ek het vir jare trokke bestuur, en ek weet hoe mens se konsentrasie raak as jy lank op die pad is; dis soms asof jy bewusteloos ry. Dit klink erg, maar dit is so, en as die drywer se GPS vir hom sê dis die pad, dan ry hy hom en sien nie eens die bordjies raak nie.”
Volgens iemand wat Vrydag op die toneel met die vragmotorbestuurder gepraat het, was hy vanaf George op pad na Johannesburg en het GPS-aanwysings gevolg. Dit is nie duidelik waarom die GPS hom daardie kant toe sou lei nie, aangesien die kortste roete na Johannesburg verby De Rust en Beaufort-Wes lei.
Moontlike oplossings
Lategan sê groter borde en ’n omdraaiplek sal dalk help om die probleem op te los, maar hy stel voor dat daar iewers op die roete, voordat hulle die Swartbergpas aanpak, ’n versperring opgerig word wat lang vragmotors sal verhoed om verby te kom. “As daar byvoorbeeld ’n sirkel of iets is wat die bestuurder laat besef hy kan nie verder ry nie en dat die sirkel 'n goeie plek vir omdraai is, sal dit tot ’n groot mate die probleem oplos.”
Navraag aan departement
Oudtshoorn Courant het navraag aan die minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, gestuur om te verneem of die departement bewus is van die aantal vragmotors wat reeds op die pas vasgekeer was en of addisionele maatreëls, buiten die bestaande verkeerstekens, moontlik ondersoek kan word om vragmotorbestuurders vroegtydig te waarsku. Terugvoer sal in opvolgberig gegee word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’