OUDTSHOORN NUUS - Herstelwerk aan kritieke infrastruktuur wat tydens die verwoestende Mei-vloede beskadig is, kan nou bespoedig word nadat R26 miljoen se rampbefondsing aan vyf plaaslike munisipaliteite beskikbaar gestel is.
Oudtshoorn is een van die munisipaliteite wat voordeel trek uit die befondsing en R5 miljoen ontvang vir noodherstelwerk.
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het bevestig dat George, Knysna en Bitou ook elk R5 miljoen ontvang, terwyl Kannaland R6 miljoen kry.
Die geld is beskikbaar gestel deur die Nasionale Rampbestuursentrum se Munisipale Rampresponstoelaag en is daarop gemik om die skade wat tydens die storms in Mei vanjaar veroorsaak is, aan te spreek.
Volgens Otto sal die Oudtshoorn-munisipaliteit sy befondsing onder meer gebruik vir noodherstelwerk aan strate en moontlik die bruggies wat deur die storms geraak is.
Herstelwerk vinniger
Herstelwerk kan ook nou moontlik vinniger begin, aangesien munisipaliteite nie hoef te wag vir 'n nuwe begrotingsiklus nie. Aanpassingsbegrotings sal aan die onderskeie munisipale rade voorgelê word.
Meer geld moontlik
Dit is egter nie noodwendig die einde van die befondsing vir stormskade nie.
Otto sê verdere projekte kan afsonderlik ingedien word vir oorweging onder die Nasionale Ramprehabi-litasietoelaag.
Dié befondsing sal na verwagting later vandeesmaand, saam met die nasionale begrotingsaanpassing, aan die nasionale kabinet voorgelê word.
"Meer projekte sal afsonderlik ingedien word vir oorweging onder 'n ander toelaag, bekend as die Nasionale Ramprehabilitasietoelaag."
By Kannaland sal die befondsing onder meer aangewend word vir herstelwerk aan een van die hooftoegangsbrûe in Calitzdorp, asook noodherstelwerk en beskerming van 'n transformator in Ladismith.
Die huidige befondsing moet binne ses maande aan herstelwerk bestee word.
Verskillende instansies sal saam met die plaaslike munisipaliteite werk om die vereiste monitering en evaluering van die projekte te behartig.
Die Wes-Kaap het 'n gedeelte ontvang van die R213,4 miljoen wat nasionaal aan drie provinsies beskikbaar gestel is vir die herstel van vloedskade. Volgens Otto het die Wes-Kaap R71,4 miljoen ontvang.
Oudtshoorn se paaie
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het ongeveer twee weke gelede reeds begin om slaggate en padoppervlaktes te herstel.
Amandla Civils is deur die munisipaliteit aangestel om geïdentifiseerde gedeeltes van verskeie strate te rehabiliteer. Die kontrakteur het reeds in St. Saviourstraat begin.
afgebaken![]() Adderleystraat is reeds afgebaken sodat rehabilitasiewerk aan dié gedeelte van die pad kan begin. Foto's: Louise Mouton | ![]() Rehabilitasiewerk het reeds in St. Saviourstraat begin. |
Die werk behels die herstel van slaggate en padskade wat deur gebarste pype veroorsaak is, asook die aanbring van 'n slurry-seël op sekere gedeeltes. Volgens Candice Biscombe, munisipale woordvoerder, sal slegs spesifieke, geïdentifiseerde gedeeltes van die strate herstel word en nie noodwendig die volle lengte van elke straat nie.
Strate wat aandag kry
- Wyk 1: Naude-, Elley- en Pauline Smithstraat
- Wyk 2: Hoop-, Van der Riet-, Kerk-, Mimosa- en Buitekantstraat
- Wyk 3: Alberts-, Bloem-, St. Saviour- en Van der Rietstraat
- Wyke 4 en 6: 4de Laan, 9de Laan en Petuniastraat
- Wyk 7: Boegoeweg, Jasmynstraat, Wolfweg, Plume-, Hill- en Adderleystraat
- Wyke 8 en 13: 20ste Laan, 21ste Laan en Kuduweg
Presiese datums vir wanneer die kontrakteur by die verskillende strate sal uitkom, is nog nie beskikbaar nie. Inwoners sal deur middel van kennisgewings ingelig word wanneer die werk na hul gebied verskuif.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

