KANNALAND NUUS - Inwoners van Amalienstein, sowat 20 km van Ladismith, kan hulself gereedmaak vir noodsaaklike verbeterings aan die plaaslike kliniek.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, is verskeie opgraderings vir die bestaande kliniek beplan.
Die kliniek beskik tans oor drie konsultasiekamers wat apart van die hoofgebou geleë is. Hierdie kamers sal as deel van die verbeterings met die hoofgebou verbind word. Daar is ook ’n buitegebou met twee konsultasiekamers wat verdere opgraderings sal ondergaan.
Nog ’n verbetering sluit die oprigting van ’n nuwe sputum-hokkie in. Die bestaande ablusiegeriewe sal ook verbeter word, terwyl die huidige eksterne rioolstelsel na die munisipale rioolnetwerk herlei sal word.
Voor is in die middel is Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, Mireille Wenger, saam met verpleegpersoneel en dokters. Foto verskaf
Volgens die departement sal die kontraktydperk na verwagting sowat ses maande duur. Gedurende hierdie tyd sal die dienste en personeel van die Amalienstein-kliniek vanaf 20 Maart tydelik na die Zoar-kliniek verskuif word.
Ferreira het die publiek bedank vir hul begrip gedurende die tydperk wat die kliniek gesluit sal wees om die opgraderings so vinnig en glad moontlik te laat verloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’