LADISMITH NUUS - Die NG Kerk Ladismith vier vanjaar ’n besondere mylpaal wanneer die gemeente sy 175ste bestaansjaar met ’n feesnaweek van 28 tot 30 Augustus herdenk.
Die gemeente is op 10 Februarie 1851 gestig en het sedertdien ’n belangrike rol in die geskiedenis en gemeenskapslewe van Ladismith gespeel.
“Ons vier dié besondere geleentheid met ’n feesnaweek vanaf Vrydag 28 tot Sondag 30 Augustus 2026,” sê Lizbé Rossouw.
Die geskiedenis van die gemeente en dié van Ladismith is van die begin af nou verweef. Namate die gemeente gegroei het, is die bekende neo-Gotiese Otto Hager-kerk gebou en in 1874 ingewy. Die historiese Ou Kerk het behoue gebly en is vandag steeds ’n belangrike deel van Ladismith se erfenis.
Die huidige NG Kerk in Koninginstraat is deur Anthonie Smith ontwerp en in Oktober 1942 ingewy. Sy broer, die bekende kunstenaar Le Roux Smith le Roux, was verantwoordelik vir besondere plafonskilderye met onder meer engele, herders, skape en honde.
Volgens die gemeente se geskiedenis het die skilderye later só die kinders se aandag tydens eredienste afgetrek dat die plafon uiteindelik bedek is.
Die gemeente se invloed strek egter verder as sy kerkgeboue. Deur die jare was die kerk by onder meer onderwys, skole en skoolkoshuise, lees- en biblioteekinisiatiewe en bejaardesorg betrokke.
Die 175-jarige bestaan word daarom nie net as ’n viering van ’n kerkgebou beskou nie, maar ook van die geslagte mense wat oor die jare deel van die gemeente en die Ladismith-gemeenskap was.
Die feesprogram
Vrydagaand
Die feesnaweek skop Vrydagaand 28 Augustus af met ’n optrede deur Roan Ash LIVE in die NG Kerk Ladismith se kerksaal. Die deure open om 18:30 en die vertoning begin om 19:30. Kaartjies kos R320 per persoon en is by die kerkkantoor beskikbaar, of kan aanlyn bespreek word.
’n Wynveiling sal ná afloop van die rugby plaasvind.
Saterdag
Saterdag 29 Augustus se vieringe begin met ’n ontbyt vanaf 09:00 en daarna is dit tyd vir ’n tradisionele plattelandse kerkbasaar, wat om 10:00 begin. Besoekers kan uitsien na pannekoek, basaarpoeding, worsbroodjies, kerrie-en-rys, vetkoek, plaas vars vleis, koeke, terte, pasteie, brood en vele meer.
Die Saterdagaand skuif die fokus na sport en kuier wanneer die Springbokke vanaf 17:00 teen die All Blacks op ’n groot skerm by die kerksaal te sien sal wees.
Toegang tot die rugby is gratis en dit is ’n bring-en-braai. Besoekers moet hul eie vleis, drinkgoed, kampstoel en braaitang bring, terwyl die organiseerders die vure, hout en roosters voorsien.
Sondag
Die feesnaweek word Sondagoggend 30 Augustus om 09:00 met ’n besondere dankseggings- en feesdiens afgesluit.
Die gemeente nooi inwoners van Ladismith, Oudtshoorn en die omliggende dorpe uit om die naweek saam te kom vier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’