OUDTSHOORN NUUS - Die uitstaande skuld van R315 378 wat die CP Nel-museum aan die munisipaliteit verskuldig was, is Dinsdag 30 September tydens 'n raadsvergadering afgeskryf.
Hierdie bedrag vorm die laaste deel van bykans R1 miljoen aan uitstaande dienstegeld wat tydens die vorige bestuur van die museum opgebou is. Meer as R600 000 is reeds vroeër afgeskryf.
André Barnard, nuwe OGI-raadslid het beklemtoon dat die museum nie net 'n sleuteltoeristebestemming is nie, maar ook 'n onvervangbare deel van Oudtshoorn se kultuurerfenis. Hy het verduidelik dat die museum hoofsaaklik op provinsiale befondsing aangewese is, maar dat dié subsidie sowat R7 000 per maand te min is om die daaglikse bedryfskoste te dek en nie genoeg is om die historiese gebou, wat aan die munisipaliteit behoort, te onderhou nie.
Daar is voorgestel dat die munisipaliteit die museum maandeliks van 15 000 liter water en 200 eenhede krag voorsien, dat 'n nuwe kontrak dringend opgestel moet word, dat 'n nuwe raadverteenwoordiger op die museumraad verkies word.
Chris Macpherson van die DA het gesê dat die museum slegs deur die provinsie ondersteun word.
"Die museum is die een instansie wat nie verpolitiseer kan word nie."
Raadsheer Vlancio Donson (Icosa) het voorgestel dat raadslede toegang kry tot die museum se finansiële state om 'n beter begrip van die situasie te kry. Daar is ook ander voorstelle bespreek oor moontlike kostelose dienste aan die museum, asook die voorwaardes wat daaraan verbonde sal wees.
Die speaker, Suzane Jansen (PA), het uiteindelik bevestig dat die raad eenparig besluit het om die skuld af te skryf. Sy het verder aangekondig dat 'n nuwe huurkontrak tussen die munisipaliteit en die museum opgestel sal word om al die besluitnemingsvoorwaardes daarin vas te lê.
Die ondervoorsitter van die museum se raad van trustees, Carol Jeal, het ná afloop van die vergadering haar dankbaarheid uitgespreek oor die besluit. Sy is deel van 'n groep vrywilligers wat sedert verlede jaar hard werk om die museum se deure oop te hou, nadat sowat R2 miljoen wat oor jare deur die Vriende van die CP Nel-museum ingesamel is, tydens die vorige bestuurder se termyn verkwis is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’