OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum in Victoriastraat en 45 personeelverblyfeenhede op die perseel is vandag (15 Julie) reeds langer as sewe dae sonder elektrisiteit.
Inwoners van die personeelverblyf het aan Oudtshoorn Courant gesê hulle is gefrustreerd omdat hulle sedert die onderbreking nog geen terugvoer ontvang het oor wanneer die kragtoevoer herstel sal word nie.
Volgens een inwoner beskik die korrektiewe sentrum oor ’n kragopwekker wat die fasiliteit van noodkrag voorsien, maar die personeelverblyf is steeds sonder elektrisiteit.
Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het bevestig dat die Oudtshoorn-mansafdeling in die Suid-Kaap sedert 8 Julie sonder elektrisiteit is.
“Na ’n assessering saam met elektrisiteitsdiensverskaffers is vasgestel dat die onderbreking deur ’n beskadigde kragkabel veroorsaak is. Geen vuilspel word vermoed nie,” het hy gesê.
Volgens Nxumalo raak die onderbreking die korrektiewe sentrum, die eetsaal en 45 personeelverblyfeenhede.
Hy het gesê die departement het reeds stappe geneem om die gespesialiseerde elektriese herstelwerk wat benodig word, te laat uitvoer.
“Tussentydse maatreëls is ingestel om die impak van die kragonderbreking te beperk. Dit sluit die gebruik van ’n kragopwekker in om noodsaaklike bedrywighede, insluitend sekerheidsbeligting, te ondersteun.”
Nxumalo het beklemtoon dat die veilige, ordelike en beveiligde bestuur van korrektiewe sentrums deel van die departement se mandaat is.
“Ons wil die gemeenskap verseker dat die veilige bewaring van oortreders steeds ’n prioriteit vir die departement bly,” het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’