OUDTSHOORN NUUS - Personeel van die Oudtshoorn-hospitaal se kraamafdeling het Maandag 17 November 'n bewusmakingstap gehou van die hospitaal tot by die Oudtshoorn-munisipaliteit om bewustheid te skep vir vroeggebore babas. Die Lutherse Jeug Brigade het die groep vergesel.
Hierdie jaar se tema, 'Premie-dag' is om seker te maak dat enige vroeggebore baba 'n sterk begin vir 'n gesonde toekoms het.
Hierdie dag word jaarliks herdenk om die fokus op vroeggebore babas te plaas. Die kleur pers is gekies vir die veldtog en simboliseer sensitiwiteit en uniekheid, die kleur word ook geassosieer met deernis en sorg.
Volgens statistiek word een uit 10 babas vroeg gebore.
Oudtshoorn-hospitaal is goed toegerus om vroeggebore babas te versorg.
Dit beskik oor 'n neonatale-eenheid waar siek en vroeggebore babas versorg word en is ook as 'n ma-en-baba vriendelike eenheid (MBV) geakkrediteer.
Die hospitaal moedig ook Kangaroe-moedersorg (KMS) aan. KMS is die vroeë, langdurige en deurlopende vel-tot-vel kontak tussen 'n ma en haar baba.
Dit verbeter die baba se hartklop, maak asemhaling meer stabiel en voorkom minder ernstige infeksies.
Babas is vroeër uit broeikaste en vorm 'n beter band met hul ouers.
Vroeggebore babas het gewoonlik asemhalingsprobleme en daarvoor beskik die Oudtshoorn-hospitaal oor 'n masjien wat deurlopende positiewe lugwegdruk (CPAP) aan 'n baba bied.
Ernstige gevalle wat nie by die hospitaal behandel kan word nie, word na die George-hospitaal verwys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’