OUDTSHOORN NUUS - Jillian Damons (18) van Oudtshoorn is Saterdag 28 Augustus tydens ’n glansryke kroningsaand by die Toekomsrus-gemeenskapsaal as Miss Full Figure Oudtshoorn 2026 gekroon.
Die kompetisie, wat vanjaar onder die tema van vrouebemagtiging, geestesgesondheid en liggaamsaanvaarding aangebied is, het die deelnemers die geleentheid gebied om nie net hulself op die verhoog te wees nie, maar ook met groter selfvertroue na hulself te kyk.
Volgens Rodney Gelant, die organiseerder, was daar 11 beoordelaars, en Verité Ann du Toit, stigter en direkteur van Panache Fashions, was die hoofbeoordelaar.
Gelant sê Damons se lewenslustige persoonlikheid en selfvertroue het uitgestaan. “Die manier waarop sy haarself ten toon gestel het was Miss Full Figure Oudtshoorn 2026 werd.”
Nadia Pretorius is as eerste prinses gekroon en Kayla Delport as tweede prinses.
Ander titels wat tydens die aand toegeken is, sluit in Me. Persoonlikheid, wat deur Tamson Leeuw gewen is, en Me. Fotogenies, wat aan Joslyn Bezuidenhout toegeken is. Jodine Buys is as Me. Sosiale Media aangewys nadat die deelnemers hul foto’s op sosiale media gedeel het. Buys het met meer as 26 000 kyke die kategorie gewen.
Die drie wenners: Kayla Philander (tweede prinses), Jillian Damons (Miss Full Figure) en Nadia Pretorius (eerste prinses). Foto: Verskaf
Die kompetisie het oor ongeveer twee maande afgespeel. Hoewel meer as 25 vroue aanvanklik belangstelling getoon het, het verskeie uitdagings, onder meer werk, kinders en beskikbaarheid vir oefensessies, daartoe gelei dat 16 deelnemers uiteindelik aan die finale kroningsaand deelgeneem het.
Vir die meerderheid van die deelnemers was dit ook hul eerste keer op ’n verhoog as modelle.
Gelant sê die doel van die kompetisie was groter as net ’n skoonheidskompetisie. “Ons wil hê mense moet verstaan dat volronde vroue aanvaar moet word soos hulle is. Agter elke vrou is daar ’n storie wat sy dra, en op die verhoog wys sy ook haar eie unieke skoonheid.”
Paul Amas was die seremoniemeester, terwyl Gail en Malcolm Arendse, Rubber Johnny en Elvine Oosthuizen vir die vermaak gesorg het. James Dido het die musiek verskaf.
Volgens Gelant was die ondersteuning van die Oudtshoorn-gemeenskap een van die hoogtepunte van die aand. Altesaam 86 mense het die vertoning bygewoon, insluitende kinders wat ook toegelaat is om kaartjies by die deur te koop.
Gelant sê een van die mees emosionele oomblikke was hoe die deelnemers met trots en selfvertroue op die verhoog verskyn het.
Damons en die ander finaliste se avontuur eindig egter nie hier nie. Sy, Pretorius, Delport, Shalana Baartman en Esmewayda Ruiters het deurgedring na die Miss Full Figure Garden Route-kompetisie. Tamson Leeuw, wat verlede jaar as eerste prinses gekroon is, kwalifiseer ook vir deelname, terwyl Elrisha Avontuur, Miss Full Figure Oudtshoorn 2022, vanjaar weer aan die Garden Route-kompetisie sal deelneem.
Verdere besonderhede oor die datum, toegangsfooie en vervoer sal later bekend gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’