OUDTSHOORN NUUS - Die nasionale KUSA-hondeskou (Kennel Union of Southern Africa) word die komende naweek, van 13 tot 15 Junie, op die terrein van Hoërskool Oudtshoorn aangebied. Verigtinge begin Saterdag om 8:30.
Volgens Jeané Murray van die George- en Outeniqua-hondeklub is die publiek welkom om die skou by te woon en die verskeidenheid honderasse te besigtig.
Murray waarsku egter dat besoekers bewus moet wees van die teenwoordigheid van honde op die terrein en dat toegang op eie risiko is.
"Besoekers word ook versoek om nie hul eie honde saam te bring nie," het sy gesê.
Sy sê verskeie honderasse sal te sien wees, onder meer Rottweilers, Duitse herdershonde, bulhonde en Pommere. Verskeie kosstalletjies sal ook op die terrein beskikbaar wees om besoekers te bedien.
Murray verduidelik dat die skou nie oor teling op sigself gaan nie, maar eerder oor die bevordering en viering van honderasse en die rasstandaarde waaraan elke hond moet voldoen.
"Die mense neem deel uit liefde en passie vir die dier, en om te verseker dat die teel-standaarde suiwer bly. Die honde word volgens spesifieke rasstandaarde beoordeel, en dit hang af van die betrokke ras," het sy gesê.
Die skou fokus op raskampioenskappe waar honde beoordeel word volgens internasionale standaarde.
Vanjaar se beoordelaars sluit die internasionaal erkende Guido Schäfer van Duitsland in, saam met plaaslike beoordelaars Tania Edwards, Michael Vorster en Tracie Austen.
Schäfer het reeds 'n lang loopbaan in die hondewêreld en het op 16-jarige ouderdom sy eerste Siberiese Husky ontvang. Hy het later sy eerste geregistreerde werpsel in 1995 onder die naam, Hightowers, gehad en spesialiseer in verskeie FCI-groepe, veral Nordiese en windhondrasse.
Hy is sedert 2012 president van die Duitse Klub vir Nordiese rasse en dien sedert 2021 op die raadskomitee van die Duitse-hondeklub vir beoordelaarsopleiding. Schäfer het oor die jare internasionaal beoordeel in onder meer Europa, Australië, Japan en by verskeie FCI wêreld- en Europese kampioenskappe.
Besoekers kan dus uitsien na 'n naweek van topvlakkompetisie, waar van die land se beste honde teen mekaar meeding in 'n viering van rasstandaarde en uitnemendheid in honde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’