OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn het op 19 Februarie een van sy bekende en geliefde besigheidseienaars, Wim Maartens, op die ouderdom van 78 verloor.
Volgens sy dogter, Naomi Louw, het Maartens in Desember ’n beroerte gehad, waarna sy gesondheid vinnig verswak het.
Maartens en sy vrou het in 1981 na Oudtshoorn verhuis. Hy het by die destydse Horison Juweliers, vandag Fleur Juweliers, begin werk en kort daarna die besigheid oorgeneem. In 1991 het Naomi by hom aangesluit, en haar man, Deon, het in 1993 deel van die familieonderneming geword. ’n Paar jaar later het Maartens ook Magister Graveurs oopgemaak, en so het hy sy passie vir vakmanskap en ondernemingsgees in die gemeenskap gevestig.
“My pa was nooit self ’n goudsmid nie,” vertel Louw.
“Maar hy het die fondament gelê waarop ons gebou het. Deon het sy ambag by die vorige goudsmid geleer en in 2001as goudsmid gekwalifiseer, maar die hart van die besigheid was altyd by my pa.”
Louw beskryf haar pa as meer as ’n sakeman.
“Hy was ’n beskermheer, ’n draer van wysheid en die hartklop van ons familie. Hy was verskriklik lief vir mense en het baie vir ander op sy stil manier gedoen.”
Sy vrou, Wena, is in Januarie verlede jaar oorlede.
Maartens laat Naomi en Deon en hul drie kinders, sowel as sy ander dogter, Karina, en haar seun, agter. Maartens word môre om 10:00 begrawe. Die diens sal by die graf plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’