OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-gemeenskap het die afgelope tyd afskeid geneem van twee vroue wat elk op hul eie manier ’n diep en blywende indruk in die onderwys- en gesondheidswese gelaat het.
Eileen Daphne de Wet
Die oud-onderwyseres Eileen Daphne de Wet (85), oudste dogter van wyle Andrew en Jeanette Avontuur van Rocky Hill, Oudtshoorn, is Saterdag vanuit Grace Church International ter ruste gelê.
De Wet het haar onderwysloopbaan by Kruisrivier-Wes begin en later onderrig gegee by PJ Badenhorst Primêr in Dysselsdorp en in Lategansvlei.
Sy het daarna na Kaapstad verhuis waar sy met Benjamin de Wet in die huwelik getree het en vir etlike jare skoolgehou het in Tafelsig, Mitchells Plain, voordat sy uit die onderwys afgetree het.
Volgens haar suster, Beatrice Avontuur, was De Wet ’n ware mense-mens wat altyd bereid was om te help en die lewe voluit geniet het. Sy het dit haar roeping gemaak om brood, koeke en broodrolletjies by winkels te bekom en dit onder behoeftige gesinne te versprei.
Sy het ook rugbytoerusting by instansies verkry wat sy weer aan kinders in die gemeenskap geskenk het.
“Sy het altyd gesê sy het veilig gevoel wanneer sy na kinders se huise gegaan het om iets te gaan oorhandig,” het Avontuur vertel.
Twee van haar kleinkinders, Wayde en Keanu Pearce, het haar beskryf as ’n “buitengewone ouma” wat hulle liefdevol “Ma” genoem het. Pastoor Willie Coetzee het tydens die diens die familie aangemoedig om hul mooi herinneringe te koester en daarop gewys dat niemand van die storms van die lewe gevrywaar is nie.
Joan Konstabel
Intussen het ’n groot aantal verpleegpersoneel van die Oudtshoorn-hospitaal op Saterdag 18 April in die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk byeengekom om hulde te bring aan en afskeid te neem van ’n geliefde kollega, Joan Konstabel (75).
Konstabel is op 14 April ná ’n kort siekbed oorlede. Sy het op 30 April 2016 as matrone van die kraam- en kindersale by die Oudtshoorn-hospitaal afgetree ná ’n loopbaan van 43 jaar in die verpleegberoep.
Haar dogter, Lauren Jones, het haar ma tydens ’n huldeblyk beskryf as iemand wat altyd daar was vir haar familie, vriende en die gemeenskap. Volgens Jones was haar ma ’n reguit persoon wat nooit doekies omgedraai het nie.
’n Oud-kollega het Konstabel onthou as meer as net ’n matrone. “Sy was ook ’n mentor vir baie. Sy was streng met haar personeel, en by haar het die pasiënt altyd eerste gekom,” is gesê.
Konstabel het geskiedenis gemaak as die eerste anderskleurige persoon wat as hoof van die kraam- en kindersale by die Oudtshoorn-hospitaal aangestel is. Tydens ’n roerende oomblik het ’n groep oud-kollegas rondom haar kis vergader om finaal hul laaste eer te betoon.
Sy het haar verpleegopleiding in 1973 aan die destydse Nico Malan Verpleegkollege in Kaapstad voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’