DYSSELSDORP NUUS - Die bekroonde kulturele aktivis en storieverteller, Deidré Jantjies van Dysselsdorp, was die afgelope naweek in die kollig by die 13de kykNET Silwerskermfees toe twee films, waarvan sy die vervaardiger is, op die skerm vertoon is.
Met Carissa, 'n film uit haar eie produksiehuis Na Aap Productions, en Melkbrood, wat sy saam met die jong filmmaker Winford Collings vervaardig het, het Jantjies haar verbintenis tot inheemse stories en bruin identiteit opnuut bevestig.
Na Aap Productions is 'n onafhanklike filmproduksiemaatskappy wat fokus op die onvertelde stories van bruin inheemse gemeenskappe in Suider-Afrika.
Jantjies se passie lê by die bewaring en uitbeelding van inheemse erfenis, veral die verhale van vroue en voorouers wat lank reeds vergete is.
Carissa
Die film Carissa, wat reeds in 2024 sy internasionale première by die Venice International Film Festival gemaak het, is vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse mark tydens die Silwerskermfees bekend-gestel. Die rolprent vertel die storie van 'n jong vrou wat haar pad probeer vind te midde van sosiale druk en haar verhouding met haar ouma, Wilhelmiena, moet balanseer.
"Ons het hierdie projek ses jaar gelede begin. Ek het gevoel dit was noodsaaklik om 'n film te skep wat die skoonheid en kompleksiteit van my mense ten toon stel. Die film poog om ons kultuur en die veerkragtigheid binne ons klein gemeenskap uit te lig."
Carissa is ook vir 12 kategorieë by die Silwerskerm-toekennings benoem.
Winfor Collings, Deidré Jantjies en Tavia Swartbooi het saam aan Melkbrood gewerk. Foto verskaf
Melkbrood
Die ander film waarin sy as medevervaardiger opgetree het, was Melkbrood, ook saam met die jong filmmaker Winford Collings. Dié film is 'n delikate en betekenisvolle uitbeelding van gemeenskapslewe, kultuur en identiteit. Oor haar betrokkenheid by die filmindustrie is Jantjies nederig trots.
"Ek verras myself steeds met die eindproduk. Mens skep so half 'n prentjie in jou kop, maar jy weet nooit hoe dit gaan uitdraai tot jy die eindproduk sien nie. Dit is ook lekker om te weet dat ander mense dit sien en ook trots is op die werk wat ek insit."
'n Lewe van storievertelling en erfenis
Deidré Jantjies is oorspronklik van Dysselsdorp. Aan die einde van haar laerskoolloopbaan het sy saam met haar ouers Kaap toe verhuis. "My ouers het in 2019 teruggekeer na Dysselsdorp en dit is maar waar my wortels altyd sal lê."
Haar pad in die filmwêreld het begin as drama- en dansstudent.
"Hier het ek geweet ek moet stories van my mense vertel. Ek het eers begin met die vervaardiging van animasie en het in 2015 Na Aap Productions gestig.
"Ek het nie geweet wat ek wou doen met die produksiehuis nie. Ek het geleer by dit wat ek gehoor en gesien het, vandaar die naam Na Aap Productions - en ek leer steeds," sê sy eerlik.
In 2020 het sy die baanbrekerswebreeks, Stories in die Wind geskep, 'n inheemse storie oor 'n jong meisie se soeke na haar doel. Dié reeks is later as 'n kinderboek deur NB-Uitgewers in 2022 gepubliseer en het vir Jantjies twee toekennings tydens die Cultural Affairs Awards besorg: Mees Innoverende Jong Kunstenaar en Beste Projek wat 'n Gemarginaliseerde Inheemse Taal bevorder.
Wat haar werk uniek maak, is haar vaste besluit om haar mense op 'n positiewe, eerbare manier te verteenwoordig. "Ek maak films oor die mense van Dysselsdorp, van die Karoo, van die geskiedenis wat nie in handboeke opgeteken is nie.
Ons is juis besig met die verfilming van 'n dokumentêr, maar vir nou gaan ons niks daaroor sê nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’