OUDTSHOORN NUUS - Die Rotariërs se Beertjie-projek het vanjaar 'n nuwe hoogtepunt bereik met meer as 700 gebreide beertjies, poppe en sagte diertjies wat met toewyding deur plaaslike vroue gemaak is. Ongeveer 40 vroue van regoor die Wes-Kaap, waarvan die meeste uit Oudtshoorn kom, het aan hierdie jaarlikse gemeenskapsprojek deelgeneem.
Vier meesterbreiers het uitgestaan vir hul uitsonderlike bydrae: Johan Hanekom, Ansa Marais, Doreen Coetzee en Susarah Barnardt het elk 100 sagte speelgoed gemaak.
Vrydag 14 November het Lézelma Pretorius van die Rotariërs, wat die projek lei, 'n spesiale bedankingsgeleentheid gehou by die Rotariër-aftreeoord om die vroue te vereer vir hul harde werk. Die meer as 700 poppe, beertjies en diertjies is netjies uitgestal, elk met sigbare sorg, detail en liefde.
Volgens Pretorius sal die sagte speelgoed in die eerste week van Desember aan kinders by kleuterskole in die gemeenskap oorhandig word.
Die sagte speelgoed was mooi uitgestal. Foto: Liezl van Niekerk
"Hierdie is 'n projek wat jaarliks groei," sê sy. "Die vroue se harde werk bring soveel vreugde vir soveel kinders."
Elke kind ontvang nie net 'n speelding nie, maar ook 'n geskenkboks met 'n lekkertjie, tandeborsel, waslap, seep, inkleurboek, kryte, tandepasta en 'n tennisbal.
Pretorius sê daar is nog nie finaal besluit aan hoeveel kleuterskole die pak-kies oorhandig gaan word nie, omdat dit afhang van die totale hoeveelheid geskenkpakkies wat saamgestel kan word.
Elke speelding is met liefde gemaak. Foto: Liezl van Niekerk
Skenkings welkom
Enigiemand wat wil bydra kan Pretorius by 084 582 3514 of Dalia Wilck by 084 620 0977 kontak. Skenkings kan ook by Baron van Reedestraat 84 afgelewer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’