OOUDTSHOORN NUUS - Vanjaar op 8 Mei is Afrikaans 100 jaar oud as 'n amptelike landstaal.
Afrikaanse organisasies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM) stuur 'n veldtog van stapel om Afrikaans se eeufees te vier.
Volgens die webtuiste, Afrikaans100.org word 'n inklusiewe feesjaar beoog om die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig. Die inisiatief het ten doel om die die volgende doelstellings uit te lig:
Om die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal as 'n mylpaal uit te lig as 'n groep mense wat lief is vir die taal.
'n Verbintenis tot die groei van Afrikaans, asook om erkenning te gee vir die bydrae wat dit tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap maak. Die bydraes wat Afrikaans op talle gebiede maak soos kuns, literatuur, onderwys, musiek en akademiese navorsing sal ook gevier word.
Afrikaans se geskiedenis
Khoi-Afrikaans dateer reeds van 1595. Toe daar in 1625 ’n permanente halfwegstasie aan die Kaap opgerig is, was Khoi-Afrikaans reeds gevestig en dus die eerste periode in Afrikaans se geskiedenis.
1671
Daar word aangeteken dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word, nie meer soos die taal in die stamland klink nie. Die oorspronklike naam vir Afrikaans was Afrikaans-Hollands oftewel Hollands van Afrika.
1800 - 1875
Navorsers vind dat daar verskillende variëteite in die Kaap gepraat word wat Nederlands, Kaapshollands, Boerehollands of Boereafrikaans, Platkaaps, Hottentothollands, Slawe-Afrikaans en Vreemdelingafrikaans insluit.
1806
Met die tweede Britse oorname het Engels geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap geword en daar word probeer om Nederlands en Afrikaans te verdring.
1807
Altesaam 375 slawekinders ontvang teen 1807 hulle godsdiensonderrig in Kaapse Afrikaans. Een van die leermetodes was om die heilige skrifte in Afrikaans, maar in Arabiese letters, oor te skryf. Afrikaans se vroegste vorm in skrif was dus in die Arabiese alfabet geskryf.
1815 - 1840's
Die skole van die Kaapse Moslem-gemeenskap gebruik Afrikaans deurentyd as onderrigmedium. Die Moslem Theological School was die eerste skool in Suid-Afrika wat Afrikaans as voertaal gebruik het en teen die 1840’s was Arabiese Afrikaans gevestig en is skryfoefeninge in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet.
1838
Die eerste onderwyskollege word op Suid-Afrika se oudste sendingstasie, Genadendal, begin.
1858
’n Predikant van die Paarl, ds. Van der Lingen, begin in 1858 ’n skool – De Gimnasium – met Nederlands as voertaal. Een van die onderwysers wat by die skool aansluit, is Arnoldus Pannevis, ’n taalkundige Nederlander, wat besef het Kaaps-Hollands het nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands om as ’n dialek beskou te word nie. Hy noem die taal Afrikaans.
1875
Die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) word op 14 Augustus 1875 gestig.
1902
Ná die Vryheidsoorlog word daar ’n hernude poging aangewend om Afrikaans te bevorder.
1925
Op 8 Mei 1925 word Afrikaans, naas Engels, amptelik een van Suid-Afrika se twee landstale.
1931
Die eerste Afrikaanse rolprente, Moedertjie en Sarie Marais, word vrygestel. Sarie Marais, ’n musiekrolprent, was die eerste Afrikaanse film met ’n klankbaan, en Moedertjie, ’n drama, die eerste met dialoog. Barakat in 2021 is die eerste Moslem-film in Afrikaans.
1942 - 1959
Afrikaans word as universiteitstaal gevestig.
1957
Adam Small debuteer met die digbundel Verse van die liefde en trek aandag met onder meer die digbundel Kitaar my kruis in 1962 en die toneelstuk Kanna hy kô hystoe in 1965. Kitaar my kruis se tweede uitgawe het sewe herdrukke gehad. Prof. Small het in Kaaps geskryf en was ’n voorloper van ’n generasie bruin Afrikaanse digters wat protespoësie in die 1980’s gepubliseer het.
1975
Die Taalmonument word tydens die eeufees van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) geopen.
1994
Afrikaans word een van Suid-Afrika se elf amptelike landstale. Pres. Nelson Mandela lees onder meer Ingrid Jonker se gedig “Die kind” voor in sy toespraak op 24 Mei 1994. Dertig jaar ná demokrasie, is Afrikaans steeds die taal wat deur die derde meeste mense in die land gepraat word.
1995
Die eerste nasionale Afrikaanse kunstefees, die KKNK, word van 7 tot 13 April in Oudtshoorn gehou.
2025
Afrikaans vier op 8 Mei eeufees as amptelike taal.
Bron: Afrikaans100.org
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’