Update
OUDTSHOORN NUUS - Reënval by die Raubenheimerdam is die afgelope week gemeet op 29 mm en die watergebruik is tans 11.8 ml per dag.
Die Raubenheimerdam het met 2% gestyg en staan nou op 70.7% vol, maar inwoners word steeds herinner om water spaarsamig te gebruik. Vlak 6-waterbeperkings is steeds in plek vir Dysselsdorp en De Rust.
Oudtshoorn
Die water is nog troebel, maar het verder merkbaar verbeter, van ’n kleurlesing van 550 mg/L Pt na ongeveer 200 mg/L Pt, en ’n troebelheid van 99 NTU na 27 NTU.
Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit is hierdie verbetering visueel waarneembaar. Normaalweg behoort die kleur onder 20 mg/L Pt en die troebelheid minder as 1 NTU te wees.
Chlorinering bly egter onder hierdie omstandighede minder effektief. Alhoewel daar in verlede week se toetse geen bakterieë aangetref is nie, bly die voorsorgmaatreël om drinkwater te kook steeds van toepassing.
Dysselsdorp
Dysselsdorp bly onder druk as gevolg van die beperkte lewering vanaf die Vermaaksrivier-boorgate. Die huidige verbruik is bykans gelyk aan die beskikbare lewering, wat beteken die stelsel is uiters kwesbaar. Daarbenewens is daar tans ’n breek op een van die lyne wat die Blossoms-bron met die skema verbind, en gevolglik kan water vanaf Blossoms nie tans tot by Dysselsdorp gevoer word nie.
Streng Vlak 6-waterbeperkings bly van krag, en inwoners word dringend versoek om hul waterverbruik verder te beperk.
De Rust
Die tydelike herstelwerk van verlede week hou steeds, maar die stelsel bly uiters kwesbaar.
Die munisipaliteit se beplanning vir ’n permanente oplossing, asook die verkryging van die nodige omgewingsgoedkeurings, aangesien die werk binne ’n sensitiewe rivieromgewing sal plaasvind, vorder goed.
Vlak 6-waterbeperkings bly streng van toepassing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’