OUDTSHOORN NUUS - Garden Route First, ’n onafhanklike burgerlike en politieke beweging, het verlede week ’n formele versoek aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gerig rakende die dorp se watergehalte.
Die versoek volg ná onlangse swaar reënval waartydens inwoners gekla het oor bruin en troebel drinkwater. Volgens die beweging hou die probleem verband met die feit dat Oudtshoorn nog nie oor ’n volwaardige watersuiweringsaanleg beskik nie.
Volgens dr. Dennis Farrell van die Garden Route First-interimkomitee is die groep deur verskeie inwoners genader om die situasie aan te spreek.
“Inwoners vra nie vir meer water nie; hulle vra dat die water waarvoor hulle reeds betaal, veilig moet wees om te drink.”
Hy meen die munisipaliteit behoort sy fokus dringend te verskuif van waterhoeveelheid na watergehalte ná wat hy beskryf as ’n dekade van sistemiese infrastruktuurverwaarlosing.
Volgens die brief wat aan die munisipaliteit oorhandig is, het die plaaslike owerheid oor jare hoofsaaklik watersekuriteit en bergingskapasiteit geprioritiseer, terwyl die drinkbaarheid van water onvoldoende aandag ontvang het.
“Terwyl watersekuriteit noodsaaklik is, is die drinkbaarheid van water fundamenteel verwaarloos. Inwoners betaal tans drinkwatertariewe vir water wat dikwels gekook of gefiltreer moet word ná reënval. Dit is nie bloot ’n diensleweringsmislukking nie, maar ’n skending van inwoners se grondwetlike reg op veilige drinkwater,” lui die brief.
Die beweging voer verder aan dat die munisipaliteit wetlik verplig is om veilige drinkwater te voorsien en dat die Nasionale Tesourie vereis dat minstens 8% van die begroting aan infrastruktuurherstel en -onderhoud bestee moet word. Volgens Farrell beloop Oudtshoorn se gemiddelde besteding tans slegs 3,1%.
Vereistes aan die munisipaliteit
Hulle stel die volgende voor:
- Onmiddellike begrotingstoewysing in die 2026/27-boekjaar vir ’n volskaalse waterbehandelingsaanleg (sandfiltrering) by die Raubenheimer-afvoer.
- ’n Driejaarplan om die Nasionale Tesourie se 8%-maatstaf vir infrastruktuuronderhoud te bereik.
- Die stigting van ’n Wateradvieskomitee ingevolge Artikel 18 van die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000).
Die voorgestelde komitee sal volgens die beweging bestaan uit gekwalifiseerde professionele ingenieurs en hidroloë uit die publiek, senior munisipale tegniese amptenare en verteenwoordigers uit die sake- en landbousektor. Die liggaam sal onafhanklike toesig oor waterinfrastruktuurprojekte hou, onderhoudsprestasie kwartaalliks monitor en die raad oor tegniese watergehalte-oplossings adviseer.
Farrell het gesê die munisipaliteit is sewe dae gegun om te reageer (die sewe dae verstryk môre, 13 April), waarna die aangeleentheid na hoër owerhede, insluitend die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering en die nasionale departement van water en sanitasie, verwys kan word.
Hy het ook inwoners aangemoedig om die Clear Water Mandate-petisie te onderteken, wat onder meer vereis dat die raad teen 30 Junie ’n Wateradvieskomitee-handves aanvaar.
Munisipaliteit reageer
In ’n verklaring sê die munisipaliteit hulle bly verbind tot die voorsiening van veilige drinkwater en werk steeds aan langtermynoplossings, insluitend die ontwikkeling van ’n waterbehandelingsaanleg, terwyl die bestaande stelsel verantwoordelik bestuur word.
Volgens die munisipaliteit word die behoefte aan ’n formele waterbehandelingsaanleg reeds vir verskeie jare erken en is dit deel van die Waterdienste-ontwikkelingsplan en verwante meesterbeplanningsprosesse.
Die implementering van sodanige infrastruktuur bly egter afhanklik van die verkryging van eksterne befondsing weens die kostes verbonde aan die projek.
Die projek is tans in ’n beplannings- en befondsingsmotiveringsfase, met voortdurende gesprekke met befondsingsinstellings. Geen implementeringstydlyn kan tans bevestig word nie.
Volgens die verklaring steun Oudtshoorn se watervoorsiening hoofsaaklik op rouwateronttrekking uit die Raubenheimerdam, waar ontsmetting deur chlorinering plaasvind, ’n praktyk wat sedert die dam se konstruksie in 1972 toegepas word.
Onder normale toestande voldoen die water aan drinkwaterstandaarde, maar ná swaar reën verhoog troebelheid weens slik en organiese materiaal, wat die doeltreffendheid van chlorinering verminder. As voorsorgmaatreël word kookwaterwaarskuwings uitgereik wanneer nodig.
Die munisipaliteit wys ook daarop dat die Blossoms-projek ’n belangrike aanvullende bron is, maar nie die damvoorraad volledig kan vervang nie.
Hoewel verhoogde bergingskapasiteit bydra tot stelselveerkragtigheid, erken die munisipaliteit dat behandelingsinfrastruktuur noodsaaklik is om watergehalte.
Huidige maatreëls sluit in:
- Deurlopende monitering en toetsing van watergehalte
- Operasionele aanpassings tydens hoë troebelheidsgebeurtenisse
- Prioritisering van kritieke infrastruktuurherstelwerk en -opgraderings
- Voorsorgmaatreëls vir openbare gesondheid, insluitend kookwateradvies
Die munisipaliteit beklemtoon verder dat die onlangse verswakking in watergehalte hoofsaaklik aan stormgebeurtenisse en opvanggebiedinvloei toegeskryf word, en nie aan ’n mislukking van roetinebedrywighede nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’