TUINROETE NUUS - Die Wes-Kaap het die afgelope jaar meer as 81 715 hektaar ekologies waardevolle grond by sy netwerk van beskermde gebiede gevoeg, ná die amptelike verklaring van meer as 20 nuwe natuurreservate tussen April 2025 en Maart 2026.
Volgens ’n verklaring van CapeNature, kan grondeienaars vrywillig hul grond as ’n beskermde gebied of natuurreservaat laat registreer deur CapeNature se Biodiversiteitsbestuursprogram.
Elke nuwe aanwysing dra by tot die provinsie se langtermyn-omgewingsverbintenisse en ondersteun pogings wat in lyn is met die Global Biodiversity Framework 30x30-doelwitte, ’n internasionale inisiatief wat daarop gemik is om teen 2030 minstens 30% van die aarde se land- en oseaangebiede formeel te beskerm.
Verskeie van die nuutverklaarde of uitgebreide reservate lê in die Klein-Karoo.
Onder dié reservate is die uitgebreide Anysberg Natuurreservaat, geleë tussen Ladismith en Laingsburg, wat ’n sleutelrol speel in die bewaring van Karoo-veld en wildkorridors.
Privaat deelname
Openbare toegang tot privaat reservate sal bepaal word volgens grondgebruik en bewaringsvereistes, en besoekers word aangeraai om direk met die betrokke reservate kontak te maak.
Grondeienaars wat belangstel om hul eiendom as ’n beskermde gebied te laat registreer, kan CapeNature se bewaringspan kontak by [email protected].
Lees die volledige berig in die week se Oudtshoorn Courant.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’