OUDTSHOORN NUUS - Daar is vier kandidate wat op 4 Desember aan die tussenverkiesing in wyk 9 gaan deelneem. Wyk 9 sluit 'n deel van Dysselsdorp, Schoemanshoek, Buffelsdrift, Haaskloof, Stolsvlakte, Waaikraal en Spieskamp in.
Dié tussenverkiesing volg na Bertram Jantjies, gewese PA-raadslid van Dysselsdorp, Saterdag 5 Oktober bedank het en homself by die DA aangesluit het.
Dit is die tweede tussenverkiesing dié jaar in wyk 9. Jantjies is vroeër die jaar as PA-raadslid in wyk 9 verkies na Chad Louw, vorige ANC-raadslid van Dysselsdorp, uit die ANC bedank het en by die PA aangesluit het. Dit het sy pos vakant gelos en Jantjies is deur middel van 'n tussenverkiesing as die nuwe raadslid gekies.
Jantjies het verduidelik dat hy nie meer gelukkig is by die PA nie en hy het gevoel dat hy as deel van die DA 'n groter verskil in wyk 9 kan maak.
Die kandidate
Die vier kandidate wat in die tussenverkiesing staan is Johanna Olivier (ANC), Bertram Jantjies (DA), Flerencia Abrahams (PA) en Hendrik Botha vir Greater Oudtshoorn Civic Association (GOCA). Hierdie is 'n nuwe party wat deur Hans Malgas, Botha en Wilton Kawa gestig is. Hendriks was vroeër jare 'n raadslid by die DA.
![]() Hendrik Botha | ![]() Johanna Olivier | ![]() Flerencia Abrahams |
So sê die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK)
Volgens Michael Hendrickse, Wes-Kaapse provinsiale verkiesingsbeampte, is daar 4 541 geregistreerde kiesers in wyk 9.
Hendrickse het klem gelê om die feit dat slégs kiesers wat geregistreer is en in wyk 9 woonagtig is, in aanmerking sal kom om te stem.
"Die OVK wil kiesers van wyk 9 daaraan herinner dat om te stem een van die min instrumente is wat elke individu in staat stel om openbare beleid direk te beïnvloed. Die OVK wil dus alle stemgeregtigde kiesers versoek om uit te gaan en te stem omdat stem een van die maklikste maniere is om jou stem te laat hoor."
Die OVK het ook 'n beroep op alle politieke partye, hul kandidate, party-agente en lede om die Verkiesingsgedragskode na te kom om te verseker dat daar gestem word in 'n omgewing wat bevorderlik is vir vrye en regverdige verkiesings.
Spesiale stemme
Spesiale stemme vind plaas op Dinsdag 3 Desember. Slegs kiesers wat aansoek gedoen het en goedgekeur is vir spesiale stemme sal in aanmerking kom om Dinsdag te stem. Spesiale stemme is vanaf 08:00 tot 17:00. Kiesers wat aansoek gedoen om by die huis te stem, sal ook Dinsdag 3 Desember tussen 08:00 en 17:00 deur die OVK-personeel besoek word sodat hulle kan stem.
Stemdag
Stemlokale maak Woensdag 4 Desember om 07:00 oop en sluit om 21:00. Al die kiesers in 'n tou teen die afsnytyd (21:00) sal toegelaat word om hul stemme uit te bring. Elke kieser moet stem by die stemlokaal van die stemdistrik waarin hy/sy/hulle geregistreer is en moet in besit wees van óf groen strepieskode ID, 'n slimkaart-ID of 'n geldige tydelike identiteit-sertifikaat om te mag stem.
Stemlokale
Die stemlokale is as volg:
- Dysselsdorp Sekondêr, 1 Deelmanstraat
- Kolping House, Adonisweg
- Volkskerk, Stolsvlakte, Oudtshoorn
- Rodewal UCC Primêr, Rodewal, Schoemanshoek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’