Update
OUDTSHOORN NUUS - Die nasionale adjunkminister van finansies, Mondi Gungubele, het Sondag 'n blitsbesoek aan Bongolethu, Toekomsrus, GG-Kamp en Smartie Town gebring.
Die besoek was deel van die ANC se stemwerwingsveldtog met die oog op die verkiesing van 8 Mei. Gungubele is deur twee plaaslike raadslede, Henry Tyatya en Sthembile Stone sowel as die parlementslid, Ellen Prins, en die streek se verkiesingsbestuurder, Putco Mapitiza, vergesel.
Die groepie het T-hemde aan inwoners uitgedeel en by verskeie huise aangedoen om met inwoners te gesels. Terwyl sommige inwoners nie geneë was om met die minister woorde te wissel nie, het ander van die geleentheid gebruik gemaak om hulle probleme onder die minister se aandag te bring.
'n Jong ma, wat op die sypaadjie met die minister gesels het, het byvoorbeeld gesê sy sukkel om werk te kry alhoewel sy matriek het en verder studeer.
Gungubele het teenoor die Oudtshoorn Courant gesê president Cyril Ramaphosa is besig met 'n opruimingsaksie binne die ANC, maar dat dit 'n lang proses is.
"As mens vir jare in die modder gelewe het, vat dit lank om uit die modder te kom en om dit van jou voete en hande af te kry," het hy gesê.
Lees 'n vorige artikel: Adjunkminister besoek Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'