OUDTSHOORN NUUS - Die vonnisoplegging van 'n 23-jarige man van Oudtshoorn, wat reeds in Julie verlede jaar op drie aanklagte van strafbare manslag skuldig bevind is, is weer in die streekhof uitgestel. Die keer as gevolg van te min hoftyd.
Xavier Arendse het skuldig gepleit op drie aanklagte van strafbare manslag vir die dood van drie vriende, Chandre Nortjé, Jacques Prinsloo en Bertram Michaels, op 13 Julie 2019.
Hulle was die betrokke aand vanaf Dysselsdorp onderweg na Oudtshoorn toe die motor die pad verlaat en gerol het.
Bertrum Michaels (22) en Jacques Jacklin (Boytjie) Prinsloo (26) is op slag dood toe die Golf waarin hulle was 'n betonversperring buite Oudtshoorn getref het. Nortjé is later in George-hospitaal oorlede. Arendse en Cassius Ewerts is beseer.
Die vonnisoplegging het lank gesloer omdat 'n maatskaplike verslag nie te voorskyn gekom het nie, en uiteindelik verlede maand bekom is.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is op 19 Maart as gevolg van 'n ellelange lys van siviele sake, vir twee dae, 12 en 13 Mei op die hofrol geplaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’