OUDTSHOORN NUUS - ’n 27-jarige man van Oudtshoorn, Duran Manuel, wat aan huisbraak met die opset om te beseer en aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind is, is in die streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Manuel het die aand van 23 Augustus 2023 saam met ene Mitchell, wat nie aangekla is nie, by die huis van Adam May (72) en Susan Wagenaar (69) ingebreek, ’n venster met ’n klip stukkend gegooi en May met ’n bierbottel in die gesig gegooi.
Manuel het onskuldig gepleit en die blaam op sy vriend geplaas, maar sy weergawe is deur die hof verwerp.
May, Wagenaar en hul seun, Dawid Wagenaar, het gesien hoe hy die bierbottel na die huis gooi en die voordeur oop trap.
Die staatsaanklaer, Ticey Coerecius, het die hof gevra om nie af te wyk van die minimum vonnis van tien jaar nie omdat Manuel ’n bejaarde man seergemaak het en nie ’n eerste oortreder is nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Manuel ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’