OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou met 12 vorige veroordelings, wat haar stiefpa met 'n graaf teen sy kop geslaan het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van vyf jaar opgelê.
Yolandre Boesak (39) het skuldig gepleit op die aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Volgens haar wou sy haar stiefpa, Mei Jullies, se selfoon by hom vat omdat hy die polisie wou bel vir haar oproerigheid.
Toe hy hom teësit het sy die graaf gegryp en hom daarmee geslaan.
Haar regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat sy skuldig gepleit, en nie die hof se tyd gemors het met 'n lang verhoor nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het egter vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Boesak se vorige vonnisse haar nie gerehabiliteer het nie.
Streeklanddros Daniel Boks het in sy uitspraak gesê die aanranding van ouers deur hul kinders is besig om 'n tendens te word en moet stopgesit word met vonnisse wat die skuldiges en andere sal afskrik.
Enige ander vonnis behalwe direkte gevangenisstraf, sal volgens die landdros 'n verkeerde boodskap uitstuur.
Boesak is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’