OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Zimbabwe, wat in 2017 saam met 'n man van Nigerië vir die besit van dwelms ter waarde van meer as R22 miljoen in hegtenis geneem is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vrygespreek omdat haar medebeskuldigde nie opgespoor kan word nie.
Brian Carelse, regshulpprokureur van Lorraine Mwandictiva, het die hof versoek om haar ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet te ontslaan en sy aansoek is deur streeklanddros Retha Pretorius goedgekeur.
Mwandictiva en Hillary Anyaneto is in Mei 2017 op die N2 buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem met 70 kg tik en 5 kg kokaïen wat in hul voertuig versteek was.
Borgtog van R20 000 is aan Anyaneto toegestaan, terwyl Mwandictiva in aanhouding gebly het omdat sy onwettig in die land is en nie oor 'n vaste adres beskik nie.
'n Lasbrief is vroeër vanjaar uitgereik vir die inhegtenisneming van Anyaneto en sy borgtog is aan die staat verbeurd verklaar.
Streeklanddros Retha Pretorius het verlede Donderdag die ontslagaansoek van die verdediging goedgekeur en Mwandictiva vrygespreek.
Die hof het egter daarna gelas dat sy na Zimbabwe gedeporteer moet word omdat sy onwettig in Suid-Afrika is.
Lees die vorige berig hier:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’