KLEIN KAROO NUUS - Dwelmsaak teen buitelanders uitgestel: Die saak teen 'n man van Nigerië en 'n vrou van Zimbabwe wat teregstaan op aanklagte van handeldryf in, en besit van dwelms ten bedrae van miljoene rande, is gister na 'n verhoor binne 'n verhoor in die Oudtshoorn-streekhof tot Junie uitgestel.
Hillary Anyaneto en Lorraine Mwandicitiva is in Mei 2017 op die N2 buite Beaufort-Wes in hegtenis geneem met 70 kg tik en 5 kg kokaïen ter waarde van sowat R22 miljoen in hulle voertuig.
Die twee se regsverteenwoordiger, adv. RW Montana, het vir 'n verhoor binne 'n verhoor gevra omdat hy beswaar aanteken teen die optrede van die polisie.
Streeklanddros Retha Pretorius, het bevind dat daar nie gronde vir die verdediging se besware is nie en dat die verhoor voortgesit kan word en die saak tot 2 Junie uitgestel. Anyaneto se borgtog van R20 000 sowel as sy borgtogvoorwaardes word tot dan verleng. Die vrou bly in aanhouding.
Vermeende verkragter vrygespreek
William Belelie van Dysselsdorp wat tereggestaan het op vier aanklagte van verkragting, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vrygespreek omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel kon bewys nie.
Belelie is daarvan aangekla dat hy op Kersoggend 2017 'n vrou na sy Wendyhuis in Booysenstraat, Dysselsdorp, geneem en vier keer verkrag het. Streeklanddros Daniël Boks het in sy uitspraak gesê die hof moet tussen die weergawes van die staat en die verdediging besluit.
Volgens getuienis van polisiebeamptes het die vrou, met hul aankoms by die woning, hulle nie meegedeel dat sy verkrag is nie. Sy het ook geen tekens getoon van vrees of dat sy gehuil het nie en was ten volle geklee.
Die hof het beslis dat Belelie as gevolg van die gebrek aan getuienis van die staat, op die voordeel van twyfel geregtig is, en gevolglik vrygespreek word op al vier aanklagte van verkragting.
Vyf jaar vir statutêre verkragting
Luciano Grootboom (20) van Oudtshoorn, wat aan statutêre verkragting skuldig bevind is, is verlede Donderdag in die streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Hy het skuldig gepleit op die aanklagte dat hy geslagsgemeenskap met 'n 15-jarige meisie gehad het met wie hy 'n verhouding gehad en sy swanger geraak het.
Hy het erken dat hy bewus was van haar ouderdom en dat sy toestemming gegee het. Streeklanddros Daniël Boks het met vonnisoplegging gesê dit is kommerwekkend omdat die kind wat hy verwek het nou deur vreemde mense grootgemaak moet word omdat die moeder wat self nog 'n kind is, dit nie kan doen nie.
Grootboom is ingevolge Artikel 276 (1) (i) tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat beteken dat hy na die uitdiening van 'n sesde daarvan om parool aansoek kan doen.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem word.
Saak teen pastoor weer uitgestel
Die verhoor van 'n pastoor van Dysselsdorp wat glo 'n tweeling verkrag het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof na 'n ondersoek ter plaatse en die getuienis van sy vrou tot later die maand uitgestel.
Freddy Jaftha (48) word daarvan aangekla dat hy in 2017 en 2018 seksuele dade met 'n 18-jarige tweeling gepleeg het.
Jaftha het getuig dat die twee susters gereeld vir bidsessies na hom gekom het en ontken die klagtes teen hom. Hy het getuig dat hy al vir twaalf jaar as pastoor op Dysselsdorp werksaam is en die klaers van geboorte af ken.
Die saak dien voor streeklanddros Daniël Boks en is vir verdere verhoor tot 20 Maart uitgestel wanneer die getuienis van 'n buurvrou van die klaers aangehoor sal word.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'