Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Die nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste, Makgothi Samuel Thobakgale, het sy kommer uitgespreek ná ‘n gewelddadige voorval op Woensdag 7 Augustus waartydens vier amptenare met messe gesteek is.
Volgens betroubare bronne wat Oudtshoorn Courant genader het, hou die aanval moontlik verband met bende-aktiwiteite. Hierdie inligting kon egter nie amptelik bevestig word nie.
In ’n verklaring wat deur die departement van korrektiewe dienste uitgereik is, word verduidelik dat die voorval tydens ’n deursoekingsoperasie by die Oudtshoorn Medium A Korrektiewe Sentrum plaasgevind het.
“Die voorval het ontaard in ’n gewelddadige woordewisseling wat gelei het tot die steek van amptenare en die ongelukkige dood van ’n gevangene. Op die oggend van 6 Augustus is ’n deursoekingsoperasie in die sentrum uitgevoer. Gedurende hierdie operasie het oortreders wat in Kamer 005 van die A-afdeling gehuisves is, aanvanklik geweier om saam te werk.
"Met die nodige ingryping kon amptenare toegang verkry en die deursoeking voortsit. Tydens die operasie het spanning toegeneem toe sommige oortreders weerstand gebied het, maar die amptenare het daarin geslaag om die situasie te stabiliseer en die operasie suksesvol af te handel,” lui die verklaring.
'n Polisievoertuig op pad na die tronk. Foto: Liezl van Niekerk
Tydens die deursoeking is verskeie verbode items, waaronder selfone en dwelms, gekonfiskeer.
“In ’n klaarblyklike daad van vergelding het oortreders uit Kamer 005 op 7 Augustus omstreeks 07:55 ’n voorbedagte en gewelddadige aanval op amptenare tydens oopsluitprosedures uitgevoer. Op daardie tydstip was 18 amptenare aan diens. Vier van hulle het beserings opgedoen, insluitend steekwonde aan die gesig, kop en rug.
"Hulle het mediese behandeling ontvang en die Werknemerbystandsprogram (EAP) is geaktiveer om ondersteuning aan hulle en hul families te bied. Een oortreder wat aan die voorval deelgeneem het, is ook beseer en is, ondanks mediese behandeling, ongelukkig oorlede.”
Thobakgale het die voorval ten sterkste veroordeel en gesê die verlies van lewe is tragies en sal aan ’n deeglike ondersoek onderwerp word in ooreenstemming met die departement se prosedures.
“Die veiligheid van ons amptenare sowel as gevangenes bly ons hoogste prioriteit. Voorvalle van hierdie aard is uiters kommerwekkend, en ons is verbind tot ’n volledige ondersoek na alle bydraende faktore,” het hy gesê.
Volgens Thobakgale is die situasie by die korrektiewe sentrum tans onder beheer. Die oortreders, wat by die aanval betrokke was, is in enkelselle geplaas in afwagting op tugstappe.
Die A-eenheid is weer deursoek, en bykomende wapens is gekonfiskeer. Alle besoeke en aktiwiteite vir die betrokke oortreders is tot verdere kennisgewing opgeskort.
“Die departement van korrektiewe dienste bly verbind tot die veiligheid en welstand van ons personeel en gevangenes, en tot die handhawing van orde binne al ons korrektiewe fasiliteite,” het Thobakgale beklemtoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’