Video
OUDTSHOORN NUUS - Die inwoners van Uniestraat in Oudtshoorn spreek toenemend hul frustrasie uit oor die haglike toestand van hul straat, die verwaarlosing van openbare ruimtes en die voortdurende misdaad wat hul veiligheid bedreig.
Uniestraat, wat vanaf Adderleystraat na Unieplein (die taxistaanplek) lei, word al jare deur sy inwoners as 'n probleemgebied beskou.
Die situasie het verder versleg sedert die afbrand van die antiekwarewinkel Pasella, geleë op die hoek van Adderley- en Bondstraat, sowat drie jaar gelede. Vandag staan slegs murasies van die gebou nog, wat volgens inwoners nou as skuilplek vir kriminele dien.
Skuins agter die gebou, aan Uniestraat se kant, is 'n oop erf wat glo dikwels gebruik word as 'n wegkruipplek ná misdade.
Anthony Valentine, 'n afgetrede polisielid wat al jare in die straat woon, sê hulle is al moedeloos.
"Verlede Woensdag, 4 Junie, is 'n persoon op Unieplein beroof en die verdagtes het via Uniestraat gevlug en in die oop erf weggekruip. Die polisie het hulle daar gevang."
VIDEO: Die polisie op die toneel in Uniestraat. Die video is deur 'n inwoner van Uniestraat geneem
Valentine sê hy en die ander inwoners het al herhaaldelik klagtes ingedien oor die vervalle toestand van die gebou en die verwaarloosde erf, maar geen daadwerklike optrede het gevolg nie.
"Al het hulle die vensters van die Pasella-gebou intussen toegebou, klim mense steeds daarin. Die oop erf word nie skoongemaak nie en is vol rommel wat deur sakkrappers gelaat word. Party van hulle oornag selfs daar en maak vuur. Ons vra al lank dat die erf toegesluit en skoongemaak word, maar niks gebeur nie."
Verder is daar glo geen straatligte wat werk nie, wat saans die gevoel van onveiligheid vererger.
"Ons voel ons pleidooie val op dowe ore. Die situasie raak net erger en ons is regtig moedeloos," sê Valentine.
VIDEO: DIE OOP ERF IN UNIESTRAAT
Volgens sersant Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kon geen inligting oor die beweerde rooftog op 4 Junie in amptelike rekords bevestig word nie.
Die koerant het verlede week navraag by die munisipaliteit gedoen, maar teen die ter perse gaan is nog geen terugvoer ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’