OUDTSHOORN NUUS - Verskeie polisie-eenhede in Oudtshoorn is gister, 15 Mei, tussen Oudtshoorn en Calitzdorp ontplooi, na verdagtes wat vermoedelik vuurwapens in hul besit gehad het, op die vlug geslaan het.
Die storie het gister soos 'n veldbrand versprei met 'n stemboodskap van 'n man wat gesê het dat die polisie Dinsdagaand 'n BMW afgetrek het wat vermoedelik twee sakke vuurwapens in gehad het.
Die man sê verder dat die voertuig by Kruisrivier by De Hoop gevind is, en dat daar geen wapens of insittendes in die voertuig was nie. Daar word beweer dat daar vyf mans in die voertuig was.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, was daar net drie persone in die voertuig en nie vyf soos die stemboodskap beweer het nie.
Die polisie het gistermiddag teen saktyd steeds na twee verdagtes gesoek, nadat een reeds in hegtenis geneem was.
Jaagtog
"Lede verbonde aan die Calitzdorp-polisie het op 15 Mei om 02:20 'n silwer BMW afgetrek. Hulle het die voertuig deursoek. Daar was drie insittendes in die voertuig. Die voertuig het weggejaag en 'n jaagtog het gevolg. Die polisie het later die BMW verlate by die afdraai na Welbedacht langs die R62 gevind. 'n Man wat naby die voertuig gevind is, is in hegtenis geneem," het Spies verduidelik.
Volgens hom is die voertuig as gesteel aangemeld, maar het nie gesê uit watter omgewing nie.
Hy het 'n beroep op die publiek gedoen om na vore te kom met enige inligting wat kan help om die ander insittendes op te spoor. Die publiek word aangeraai om nie die mans te nader nie, maar om die Oudtshoorn-polisie by 044 203 9000 of 079 893 9968 te kontak.
Daar was egter geen beves-tiging van enige vuurwapens wat gevind is of na gesoek word nie.
Ooggetuie vertel
Een van die inwoners van Kruisrivier het op voorwaarde van anonimiteit gesê dat sy een van die verdagtes Woensdag-oggend op die sementpad met 'n groot sak gesien loop het, oomblikke voor hy in hegtenis geneem is.
"Toe ek die persoon sien het ek dadelik gewonder wat hy in die area soek omdat ons almal ken wat gewoonlik hier rondloop. Dit was net vir my vreemd en hy het uitgestaan. Mens sien dadelik hy is nie van hier rond nie. Hy het 'n leer baadjie en swart broek aangehad en hy was heeltyd op sy foon.
"Ons almal wat hier rond bly is nou bang, want waar kruip die ander twee verdagtes weg? As dit so is dat hulle wapens het, is hulle gevaarlike kalante. Hier is oorgenoeg bosse vir skuilplek totdat die stof gaan lê.
Ons sal maar heeltyd op ons hoede wees tot al drie agter tralies is. Ons hoop dis vandag of binnekort," het die persoon gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’