CALITZDORP NUUS - Lede van die Calitzdorp-polisie en die Attaqua-honde-eenheid het die afgelope naweek deelgeneem aan 'n misdaadbekampingsoperasie in Calitzdorp, waar hulle twee persone vir dwelmverwante misdrywe in hegtenis geneem het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die lede reageer op inligting oor 'n voertuig wat vanaf Oudtshoorn met 'n besending dwelms onderweg was. Die lede het die voertuig langs die R62 gewaar waar hulle dit afgetrek het.
"Met die deursoeking van die voertuig het die lede 'n sak met 100 mandrax-tablette en 10 gram tik by een van die insittendes gevind. Die 61-jarige man is daarna in hegtenis geneem."
Later dieselfde dag, 25 Januarie, het die Calitzdorp-polisie, Dysselsdorp-polisie, lede van die Attaqua-honde-eenheid en Wes-Kaapse provinsiale verkeers- en misdaadintelligensie 'n voertuigkontrolepunt op die R62 by die ingang na Calitzdorp uitgevoer.
Die span het 'n taxi deursoek en 100 Mandrax-tablette in besit van 'n passasier gevind het.
Van die mandrax-tablette wat gekonfiskeer is. Foto verskaf
"Die 36-jarige verdagte is ook in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms."
Die span het ook 'n 32-jarige verdagte in hegtenis geneem wat met 'n klein hoeveelheid dwelms gevind is.
Spies het gesê die gesamentlike operasie het gelei tot die uitreiking van sewe boetes, wat 'n totale bedrag van R9 600 vir padverkeersoortredings beloop het. Al drie verdagtes bly in polisie-aanhouding.
"Hulle sal na verwagting Maandag 27 Januarie hul eerste hofverskyning in die Calitzdorp-landdroshof maak. Hierdie operasies vorm deel van verskeie operasies om ernstige en gewelddadige misdade hok te slaan wat gewoonlik oor naweke aangemeld word. Soortgelyke operasies sal uitgevoer word in 'n poging om dwelmmisbruik uit te roei."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’