DE RUST NUUS - Heinrich Swartbooi (32) van De Rust is in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind op twee aanklagte van opsetlike saakbeskadiging en een van aanranding met die doel om ernstig te beseer, en tronkstraf van sewe jaar en ses maande opgelê.
Swartbooi het Fiona Hendricks, met wie hy agt jaar ’n verhouding gehad het, op 21 April 2024 geklap en in die gesig getrap en later ook ’n bed van haar aan die brand gesteek.
Hy het ook haar suster se televisiestel met klippe stukkend gegooi.
Volgens Hendricks was Swartbooi kwaad oor Marie-beskuitjies en sy is na haar suster toe om beskuitjies te vra.
Swartbooi het haar agtervolg en toe die deur van haar suster se huis oopgeskop en haar televisiestel ter waarde van R5 000 met klippe stukkend gegooi.
Swartbooi het al die bewerings teen hom ontken en aangevoer dat die twee susters ’n saak teen hom opmaak.
Streeklanddros Daniel Boks het Swartbooi se getuienis verwerp. Die hof het bevind dat die twee susters mekaar staaf en twee ooggetuies, Nicolene Luiters en Elzine Konstabel, het gesien dat Swartbooi die bed aan die brand steek.
Die hof het die eerste twee aanklagte vir vonnisoplegging saamgeneem en Swartbooi daarvoor ses jaar gevangenisstraf opgelê.
Vir die beskadiging van Maudene Hendricks se deur en televise is hy tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’