OUDTSHOORN NUUS - 'n Jongman met 'n belowende toekoms voor hom is Saterdagaand, 18 Januarie, oorlede nadat hy tydens 'n stryery met 'n mes gesteek is. Die voorval het om 21:15 in Mullerstraat in Askamp, Bridgton plaasgevind.
Ronaldo Filander (19) het volgens familie die heeldag gesellig saam met hulle en vriende gekuier. Later die aand het hy en die verdagte, wie se naam bekend is aan Oudtshoorn Courant, in 'n stryery betrokke geraak waartydens die verdagte hom met 'n mes gesteek het.
Volgens familie, wat verkies om anoniem te bly, het Filander probeer weghardloop van die verdagte waartydens hy oor 'n sypaadjie gestruikel en geval het.
Hulle het onmiddellik die ambulans geskakel toe hulle opmerk daar is bloed op die wit hemp wat hy aangehad het.
Omdat die ambulans te lank geneem het om op te daag het 'n familielid hom na Oudtshoorn-hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het. Volgens hulle was hy 'n sagte, vriendelike en behulpsame jongman.
Volgens kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, word die omstandighede rondom die voorval nog deur Oudtshoorn-polisie ondersoek.
Volgens inligting vanaf Oudtshoorn-polisie het hulle 'n klag ontvang en met aankoms by Oudtshoorn-hospitaal was die slagoffer reeds dood verklaar. Die slagoffer is in 'n privaat voertuig na die hospitaal geneem.
'n Klag van moord word ondersoek. 'n 17-jarige verdagte is om 22:00 dieselfde aand gearresteer. Die motief agter die moord is nog nie bekend nie.
Kranslegging
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) beoog 'n kranslegging vir Filander op Dinsdag 28 Januarie in Mullerstraat waar die voorval plaasgevind het.
Begrafnis
Filander se roudiens vind Woensdag 29 Januarie om 19:00 by Mullerstraat 17538 plaas en die begrafnis Saterdag 1 Februarie om 09:00 by die huis in Mullerstraat 17538 en om 10:00 by Rohoboth Kerk in Mullerstraat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’