OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-speurders ondersoek tans twee inbrake wat plaasgevind het by Laerskool Laurus in Oudtshoorn, en is bewus van 'n poging tot inbraak by Van Reede Skool, die saak is egter nie aangemeld vir ondersoek nie.
Laurus loop deur
In gesprek met departementshoof, Gerrit Jansen van Vuuren, noem hy dat die eerste inbraak by die snoepie plaasgevind het op Woensdag 11 September.
Met die tweede voorval, op Donderdag 12 September is 'n venster oopgebreek en 'n rekenaar, televisie en kitaar gesteel.
Gelukkig kon hul dit op die skool se kameras vasvang wat die plaaslike speurders se ondersoekwerk vergemaklik het. Twee verdagtes is intussen gearresteer.
Volgens sers. Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het die speurders die televisie, rekenaarboks, sowel as lekkers en skyfies teruggevind by die verdagtes.
Volgens Janse van Vuuren is die beheerliggaam, ouers, asook onderwysers bitter ongelukkig met die inbrake, maar loof Oudtshoorn-speurders vir hul knap en vinnige werk.
"Twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 34 jaar is gearresteer in verband met die inbrake. Hul het Maandag 16 September in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal."
Saak nie aangemeld
By Van Reede Skool is daar gepoog om by die dogtersbadkamer op die skoolterrein in te breek. Volgens inligting van die skool se mediawoordvoerder, Christo Kemp, was daar houtskool gestoor in die area en het die inbrekers die veiligheidshek oop gebuig om toegang te verkry.
Volgens Spies is geen saak in die verband geopen nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’