OUDTSHOORN NUUS - ’n Skietvoorval wat Donderdagoggend, 9 April, in Dassieweg plaasgevind het, het inwoners woedend gelaat oor die toenemende misdaad in die area.
Na aanleiding van die voorval het inwoners raadslid Joey Canary genader om hulp te vra rakende die kriminele bedrywighede.
Gemeenskapslede het hul kommer uitgespreek oor gereelde misdaadvoorvalle asook ’n beweerde dwelmhuis waar vermeende misdadigers glo woon.
Adjudant-offisier Christopher Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die 51-jarige man wat op pad werk toe was, is glo deur twee mans oorval en van sy vuurwapen beroof.
“Hulle het sy vuurwapen geneem en verskeie skote afgevuur. Die slagoffer het daarin geslaag om ongedeerd te ontsnap. Die vuurwapen en ammunisie is later teruggevind,” het Spies gesê.
Twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 42 jaar oud, is op 9 April in hegtenis geneem op aanklagte van poging tot moord, roof en die onwettige afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied. Die verdagtes bly in polisie-aanhouding en sal in die hof verskyn sodra hulle formeel aangekla is.
Raadslid tree in
Canary het vanoggend, 10 April, saam met lede van die gemeenskap, munisipale wetstoepassing en die polisie die betrokke woning besoek om die situasie te ondersoek.
Volgens haar is die saak kompleks aangesien daar bevestig moet word of die huidige inwoners van die beweerde dwelmhuis toestemming van die huiseienaar het om daar te woon.
“Daar woon in elk geval te veel mense op die perseel, wat ’n moontlike gesondheidsrisiko inhou. Inwoners van Dassieweg is tans besig om ’n petisie te teken om die inwoners te laat uitsit, aangesien die beweerde bedrywighede by die huis ’n gevaar vir die gemeenskap inhou,” het Canary gesê.
Sy het bygevoeg dat sy met die eienaar van die eiendom in gesprek sal tree om die presiese verblyfreëlings te bevestig.
Intussen is opdrag gegee dat ’n onwettige struktuur voor die huis verwyder moet word en dat die erf skoongemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’