OUDTSHOORN NUUS - Die AfriForum-buurtwag in Oudts-hoorn het die afgelope week sy misdaadstatistiek vir Maart bekendgemaak, en dit dui op 'n beduidende toename in voorvalle wat deur patrollies hanteer is.
Volgens die verslag, wat slegs voorvalle insluit waarby buurtwagpatrollies betrokke was en nie die hulp van plaaslike sekuriteitsmaatskappye nie, is 'n totaal van 458 voorvalle in Maart hanteer - 'n styging van 44,9% teenoor Februarie.
Voorvalle per sektor
In die Wesbank-sektor is 165 voorvalle aangeteken teenoor 98 die vorige maand, wat 'n skerp toename van 68,4% verteenwoordig.
In die Noord/Suid-sektor het voorvalle van 218 tot 293 gestyg, 'n toename van 34,4%. Gemiddeld is 5,3 voorvalle per dag in Wesbank en 9,5 in Noord/Suid hanteer.
Wat die aard van die voorvalle betref, bly verdagte persone die grootste kategorie. Altesaam 228 sulke voorvalle is in Maart hanteer, vergeleke met 193 in Februarie - 'n styging van 18,1%.
Diefstal en inbrake het ook toegeneem, met 38 voorvalle in Maart teenoor 31 in Februarie, 'n styging van 22,5%.
Nog 'n kommerwekkende tendens is kinders wat op straat ronddwaal - 62 voorvalle is in Maart aangemeld, teenoor 26 in Februarie, wat 'n skokkende toename van 138,5% verteenwoordig.
Onwettige karwagte bly 'n kopseer vir inwoners, met 19 voorvalle is aangemeld teenoor 12 die vorige maand - 'n toename van 58,3%.
Daarbenewens is 10 voorvalle van rommelstrooi deur sakkrappers aangeteken.
Die aantal oop vure het skerp gestyg van drie in Februarie tot agt in Maart - 'n toename van 166,6%.
Die buurtwag het ook sewe foutiewe straatligte en gebarste waterpype aangemeld.
Afname
Positiewe nuus is dat sekere kategorieë 'n afname getoon het.
Voorvalle van klipgooi het van vyf tot twee gedaal ('n afname van 60%), terwyl dwelmverwante insidente van drie tot twee verminder het ('n daling van 25%). Voorvalle van dronkenskap en oproerigheid het onveranderd gebly op vier per maand.
Die buurtwag het in Maart ook 60 individue se name opgeteken en klagtes wat met hulle verband hou, hanteer. Sewe voorvalle is aangemeld waarin toeriste glo geteiken en gedreig is.
Volgens Donovan Kleinhans van die AfriForum-buurtwag is 42 verwysings na die polisie gemaak, wat oproepe en voorvalverslagnommers insluit om sake te open.
"Die buurtwag het toenames in voorvalle in die meeste kategorieë ervaar, met ou tendense wat oor die afgelope jaar goed bestuur is en bykans verdwyn het, wat nou weer in sekere woonbuurte begin kop uitsteek," het Kleinhans gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’