OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van Ebenezer Titus, ’n plaaslike fotograaf wat teregstaan op ’n aanklag van verkragting van ’n 16-jarige meisie, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof tot 21 Oktober uitgestel.
Die uitstel volg nadat die dokter wat die klaagster ondersoek het, nie beskikbaar was om te getuig nie.
Die beweerde voorval het op 18 Januarie 2024 plaasgevind. Titus het onskuldig gepleit.
Die klaagster het getuig dat sy die betrokke aand saam met Titus, wat sy goed geken het, in sy motor in Bridgton rondgery het. Volgens haar het Titus haar vertel van ’n video wat hy na bewering van haar en haar kêrel geneem het terwyl hulle geslagsgemeenskap gehad het.
Sy het getuig dat hy haar gedreig het dat hy die video aan haar pa sou wys, maar dat hy dit sou uitvee indien sy met hom geslagsgemeenskap sou hê.
Volgens die klaagster het sy geweier, en toe sy uit die motor wou klim, het Titus haar na bewering gegryp, gesoen en seksueel aangerand.
Sy het verder getuig dat Titus by ’n kleuterskool stilgehou het, waar hy haar na bewering verkrag het. Volgens haar het sy daarna uit die motor gespring en weggehardloop.
Titus se regsverteenwoordiger, Alrique Campher, het egter aangedui dat sy kliënt ’n ander weergawe van die gebeure sal voorlê. Volgens Campher sal Titus getuig dat die klaagster vrywillig in sy motor geklim het en saam met hom rondgery het.
Hulle het volgens Campher oor ’n video gepraat wat Titus glo van die klaagster en haar kêrel geneem het, maar hy sal ontken dat hy die video aan haar gewys het.
Campher het gesê Titus sal ontken dat hy die klaagster verkrag het. Hy het verder aangevoer dat daar verskille is tussen die klaagster se getuienis in die hof en haar oorspronklike polisieverklaring.
Die klaagster se kêrel het ook getuig oor ’n boodskap wat sy op 18 Januarie 2024 aan hom gestuur het, waarin sy hom van die beweerde voorval vertel het. Volgens hom het hy haar aangeraai om die voorval by die polisie aan te meld, wat sy die volgende dag gedoen het.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor, met TC Coerecius as aanklaer. Titus is op borgtog vrygelaat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’