OUDTSHOORN NUUS - Herman Redelinghuys (25) wat twee mans van Dysselsdorp gehuur het om saam met hom sy stiefbroer te vermoor, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof na 'n vonnisooreenkoms met die staat, tronkstraf van 25 jaar opgelê waarvan tien jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Redelinghuys sê in sy pleitooreenkoms dat hy sedert vierjarige ouderdom deur sy stiefbroer, die 33-jarige Jacques Liebenberg, seksueel en emosioneel misbruik is en hy beplan het om hom dood te maak.
Hy erken dat hy vir Abraham Swartbooi en Adrian Isaacs gehuur het om hom te help en dat hulle Liebenberg die aand van 11 Januarie 2023 op die Kammanassie-pad buite Dysselsdorp vermoor het.
Liebenberg se liggaam is die volgende dag met veelvuldige steekwonde deur polisiebeamptes van Dysselsdorp gevind en volgens 'n mediese verslag is hy dood as gevolg van 'n hou teen sy kop en steekwonde in sy nek en bors.
Volgens die ooreenkoms sal Redelinghuys in die verhoor van sy twee medebeskuldigdes getuig.
Swartbooi en Isaacs het die hof Dinsdag meegedeel dat hulle onskuldig gaan pleit.
Redelinghuys erken in sy pleitooreenkoms dat hy die moord beplan het en Swartbooi en Isaacs betaal het. Hy is ook nie deur enigiemand gedwing om skuldig te pleit nie.
Sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om Redelinghuys se ouderdom vir vonnis in ag te neem asook die feit dat hy skuldig gepleit en nie die hof se tyd verder gemors het nie. Hy was ook vir langer as twee jaar in aanhouding en toon berou. Voorts het hy geen vorige veroordelings nie en is 'n eerste oortreder.
Daar is dus wesenlike en dwingende omstandighede om van die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf af te wyk.
Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, was Liebenberg se meisie, Angelique Alexander, tydens sy dood ses maande swanger en moet die kind nou sonder 'n pa grootword.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Redelinghuys aan moord skuldig bevind en ingevolge van die pleitooreenkoms gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Die saak teen Swartbooi en Isaacs is na die vonnisoplegging na streekhof 3 oorgeplaas waar dit later die oggend op versoek van die twee se regshulpprokureur, Margareta Aucamp, deur streeklanddros Daniel Boks tot 17 Februarie uitgestel is.
Vorige artikels
- Moordsaak vir pleit uitgestel
- Stiebroer-moord vir pleit uitgestel
- Beweerde moordenaar vra sielkundige hulp
- Geen borgtog vir vermeende moordenaar
- Kammanassie-moord uitgestel
- Kammanassie-moord: Borgtog laat vaar
- Campher teen borgtog van Redlinghuys
- Leon Campher rig petisie aan hooflandros
- Kammanassie-pad moord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’