OUDTSHOORN - Die saak teen 'n vrou van Oudtshoorn, wat van strafbare manslag en bestuur van 'n motorvoertuig onder die invloed van alkohol aangekla word, is die week vir verdere ondersoek tot 27 Maart uitgestel.
Samatha Meyer (40), die beskuldigde, was na beweering die bestuurder van die Audi A3 wat op 8 November 2024 in die ongeluk op die kruising van Voortrekkerweg en Randstraat betrokke was. Sy was een van twee insittendes in die voertuig.
Peter-John (PJ) Sauls wat in die ander voertuig was, is op die toneel oorlede.
Die Volkswagen Golf waarmee Sauls gery het, het op die toneel aan die brand geslaan. Hy is deur 'n omstander, Gollie Samson, uit die voertuig gered.
Samson het die windskerm uitgetrap en probeer om Sauls agter die stuurwiel uit te haal, maar het gesukkel want sy voete het vasgesit. Nog 'n omstander het opgedaag om Samson te help.
Sauls het ernstige kopwonde opgedoen en is kort na paramedici by die toneel opgedaag het, oorlede.
Nooddienste het toe na die oorkant van die pad beweeg, waar Meyer en haar passasier gesit het, en hulle na die hospitaal geneem. Die aard van hulle beserings was nie bekend nie.
Sy het Maandag haar tweede verskyning in die hof gemaak nadat die saak Donderdag 23 Januarie verdaag moes word omdat haar regsverteenwoordiger nie teenwoordig kon wees nie.
Slegs die naaste familielede van die beskuldigde en die oorledene is tydens Maandag se hofverrigtinge op versoek van die staatsaanklaer in die hofsaal toegelaat.
Die staatsaanklaer, Danelle van der Westhuizen, het die hof om uitstel gevra omdat die polisieondersoek nog nie afgehandel is nie. Volgens haar is die ongeluksrekonstruksieverslag, videomateriaal van die ongeluk, die bloed-alkoholverslag van die oorledene en kettingverklarings nog uitstaande.
Die alternatiewe aanklag teen die vrou is 'n oormatige hoeveelheid alkohol in haar bloed.
Die saak dien voor landdros Zuastred Deyce en Meyer word deur Bulelani Bans verteenwoordig.
Vorige artikels:
- Gemeenskap in rou oor geliefde onnie
- Troosdiens vir ongelukslagoffer gehou
- Troosdiens vir PJ Sauls beplan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’