OUDTSHOORN NUUS - 'n Pa van vyf kinders is Donderdag 23 Januarie in die Oudtshoorn-landdroshof op twee aanklagte van huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind en vir 30 maande tronk toe gestuur.
Imeraan Samuels (33) het die nag van 10 en 11 September 2024 by die Laerskool Laurus ingebreek en ‘n groot hoeveelheid sjokolade, koeldrank en aartappelskyfies gesteel.
Die volgende nag het hy weer by die skool ingebreek en 'n televisiestel en ‘n rekenaarboks ter waarde van R14 500 gesteel.
Hy is danksy geslotekringtelevisie vasgetrek en die meeste van die gesteelde items is deur die polisie teruggevind.
Landdros Zuastrid Deyce het die inbrake by 'n plek van opvoeding as skokkend beskryf en vir vonnis in ag geneem dat Samuels skuldig gepleit het. Omdat hy nie 'n eerste oortreder is nie het sy bevind dat 'n opgeskorte vonnis nie gepas sal wees nie.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’