LADISMITH NUUS - ’n 53-jarige man van Ladismith, wat sy driejarige kind met klippe gegooi en gestamp het dat die kind op sy mond geval het, is in die Ladismith-streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind en tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis.
Volgens die pa het die kind hom glo gevloek.
Die pa het skuldig gepleit en verduidelik dat hy en die kind se ma die betrokke aand saam met vriende gekuier het toe die voorval gebeur het.
Almal het baie groot geskrik toe die kind se lip erg begin bloei het, waarna sy ma die saak by die polisie aangemeld het.
Volgens die getuienis het hy vir die kind en die ma om verskoning gevra.
Volgens die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het hy roekeloos opgetree en kon dit veel erger gewees het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê ’n kind bly ’n kind en het die pa nog een kans gegee om buite die tronk te rehabiliteer.
Die pa is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is en drie jaar korrektiewe toesigvonnis, wat behels 24 uur per dag in huisarres behalwe vir kerk- en werkdoeleindes. Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms en is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’