OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen nege ouers van Grootkraal UCC Primêr is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof tot 28 Julie uitgestel na die groep se besluit om vertoë tot die Direkteur van Openbare Vervolging te rig en te versoek dat die saak van die rol verwyder moet word.
Johannes Lotter, Randall May, Blaudwine Fortuin, Marion Witbooi, Michelle May, Johnny van Niekerk, Lena May, Alicia Bruintjies en Cathleen Gelant word aangekla van menseroof, opsetlike saakbeskadiging, aanranding, intimidasie en openbare geweld.
Die saak spruit uit 'n voorval op 7 April 2022 toe die beskuldigdes glo twee onderwysers aangerand en verhoed het om die skoolperseel te verlaat.
Oudtshoorn Courant het berig dat 'n groep ontevrede ouers daardie dag buitebande 'n paar meter van die skool, op die Grottepad aan die brand gesteek het omdat hulle ongelukkig was met besluite wat die skool geneem het sonder hulle insette.
Die groep word deur Brian Carelse van die Regshulpraad verteenwoordig wat die hof Vrydag vir uitstel gevra het op afwagting van 'n beslissing van die DOV.
Die saak dien voor streek-landdros Daniel Boks en die beskuldigdes is almal uit op waarskuwing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’