OUDTSHOORN NUUS - Voortslepende diefstal en saakbeskadiging by die Oudtshoornkorrektiewe dienssentrum raak nou 'n ergenis vir bewaarders en personeel. Oudsthoorn Courant het Donderdag, 3 Oktober besoek afgelê by die gevangenis om eerstehands die skade te sien. Pale word eenvoudig deur boosdoeners afgesaag en kabels afgesny.
Die perseel van korrektiewe dienste is bo in Victoriastraat geleë en grens aan 'n veld.
Volgens 'n ingeligte bron wat verkies om anoniem te bly is dit nou hoeveelste keer wat dié tipe voorvalle by Oudtshoorn-polisie aangemeld word, maar daar is geen optrede of ondersoek nie.
Volgens hom was daar ook voorvalle van inbrake by bewaarders se huise wat op die perseel woon.
Luidens Candice van Reenen, mediawoordvoerder van die departement, het die Oudtshoorn-korrektiewe dienssentrums reeds vir 'n tydperk probleme met hul telefone as gevolg van die kabeldiefstalle.
"Die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) wil egter al sy kliënte in kennis stel dat die sentrum telefoontoegang het en dat alternatiewe reëlings getref is tot die betrokke partye die kabels vervang. Ons wil graag ons verskoning uitspreek vir enige ongerief hierdeur veroorsaak is. Ons moedig lede van die publiek aan om hierdie tipe kriminele dade by die naaste polisiestasie aan te meld."
Polisie reageer
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is dit "baie vreemd en kommerwekkend" dat die klag oor die hantering van die saak nie by die plaaslike polisiebestuur aangemeld is nie aangesien die departemente goed met mekaar saamwerk. "Ons het gereelde vergaderings sowel as geïntegreerde misdaadbekampingsoperasies waarin DKD 'n belangrike rol speel. Die bestuur van Oudtshoorn-polisie kan nie onthou dat 'n klag van geen nakoming of bystand van die polisie by die bestuur ingedien is nie. Ons sal graag 'n dissiplinêre proses instel indien die amptenaar sy klagte via die regte kanale aanmeld." Hy het egter nie kommentaar gelewer oor die diefstalklagtes nie.
• In 2022 het die koerant berig dat veiligheidsheinings wat rondom die perseel van die korrektiewe dienssentrum opgerig is ook gevandaliseer en gesteel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’