OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Dysselsdorp, wat ’n vrou met ‘n graaf oor haar kop geslaan het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind en tot R20 000 of 20 maande gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is.
Flippie Links (50) het in sy pleitverduideliking gesê dat hy die klaer, ‘n susterskind wat vir ‘n naweek by hulle gekuier het, per ongeluk raakgeslaan het.
Volgens hom het sy eerste na die graaf gegryp om hom daarmee te slaan nadat hy haar aangespreek het oor die wyse waarop sy met haar ouma gepraat het. Hy het die graaf egter eerste in die hande gekry en wou haar net skrikmaak toe hy haar raakgeslaan het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het aan Links gesê dat dit nie die manier is hoe jy jou gas behandel nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Links behalwe die opgeskorte vonnis, ook gelas om die vrou te vergoed met ‘n bedrag van R1 500, en hom ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’